Ek wens partykeer God wil optree soos wat ek dink Hy moet
top of page

Ek wens partykeer God wil optree soos wat ek dink Hy moet


Stephan Joubert se nuutste Goeie Nuus skryf hy oor "Ek wens partykeer God wil optree soos wat ek dink Hy moet"
Ek wens partykeer God wil optree soos wat ek dink Hy moet

Net wanneer ek dink ek verstaan God, tree Hy anders op as wat ek dink.” Ek sal nooit hierdie woorde vergeetwat ’n vriend jare gelede kwytgeraak het nie. Dit was nie ligsinnig bedoel nie. Alles behalwe. Hy het dit opreg bedoel. Vandag besef ek dit is ’n diep waarheid, wat daardie vriend gedeel het. Ek besef al hoe meer God is groter, genadiger, heiliger, nader, maar ook anders as wat ek dink. Nooit kan ek God in my eie beperkte klein boksies vasgevang kry nie. My nadenke en my woorde skiet gedurig te kort. Ek ken ten dele, soos wat Paulus in 1 Korintiërs 13 skryf. Ek verstaan ten dele. Maar van een ding is ek seker: die Here is nie anders as wat Hy Homself in Sy goeie Woord bekend maak nie. Hy tree dalk partykeer anders op as wat ek dink, maar Hy is definitief nie anders as wie Hyself sê Hy is nie.


God is nie onkenbaar nie. Of wispelturig nie. Daar is nie verskuilde donkertes in Hom nie. Hy is altyd liefde. Hy is altyd die God van genade en oorvloedige lewe. As ons na Jesus se kruis kyk, dan sien ons die hemel se opofferende liefde in volkleur raak. Dan leer ons dat God se genade nimmereindigend is. Nie eens sonde en die dood kan ’n einde hieraan maak nie. Al verstaan ons nie aldag die Here se handewerke nie en al gryp Hy nie elke keer in, soos wat ons gedink het Hy moes nie, is Hy steeds wie Hy is. Hy is die God van liefde en ontferming. Sy naam is Immanuel, God by ons. Hy het kant vir ons gekies. Niks kan ons van Sy liefde skei nie.


Dalk weet ons genoeg van God af as ons dít weet. O ja, en as ons dit ook van harte glo.

bottom of page