My naam staan in die boek van die lewe!
top of page

My naam staan in die boek van die lewe!


My naam staan in die boek van die lewe!

God ken ons deur en deur. Die Bybel vertel dat God so intens by ons lewens betrokke is dat Hy ons name selfs in Sy boek van die lewe opskryf. Psalm 139:16 sê jubelend: “U het my al gesien, toe ek nog ongebore was. Al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” Hierdie woorde moet egter nie deterministies verstaan word asof elke liewe mens se lewe in onveranderlike sement gegiet is nie. Hierdie woorde vorm deel van Dawid se belydenis dat ons as gelowiges nie produkte van die noodlot is nie. Ons is die werk van God se hande. In Psalm 69:29 bid die psalmskrywer juis dat goddeloses se name uitgewis sal word uit die boek van die lewe. Hulle name mag nie saam met die regverdiges hierin opgeskryf word nie. Die bedoeling met hierdie boek van die lewe in die Ou Testament is dus om te bevestig dat alle regverdiges se lewens oop en bloot voor die Here is, vanaf geboorte tot dood. Daarom sê Daniël 12:1 die Here sal diegene wie se name in Sy boek van die lewe opgeskryf is, nooit prysgee nie. Hy sal hulle red.


Openbaring 20:11-15 bevestig dat God se boek van die lewe by die wederkoms oopgemaak word. Wanneer almal op daardie dag voor God stelling inneem, word daar egter eers ’n klompie ander boeke oopgemaak. Eerstens is daar boeke (meervoud!), waarin al die werke van die onregverdiges opgeteken is. Hulle almal word dadelik in die vuurpoel gegooi. Vervolgens word die boek van die lewe (enkelvoud!) oopgemaak. Hierin staan slegs die name van dié wat in Christus glo, oftewel die regverdiges. Hulle ontvang dadelik die nuwe hemel en die nuwe aarde as erfenis. Kortom, God ken ons óf op ons naam, óf weens al ons dade. As laasgenoemde die geval is, dan het ons moeilikheid, ewige moeilikheid! Maar as Hy ons op ons naam ken, dan het Jesus in ons plek betaal. Dan het Hyself ons naam in die boek van die lewe ingeskryf. Maak seker dat jou naam in die regte boek ingeskryf is. Dit het ewige goeie gevolge.

bottom of page