God trek nie klipharde strepies nie
top of page

God trek nie klipharde strepies nie


In sy nuutste Goeie Nuus kyk Stephan Joubert na Job en vra of God klipharde strepies trek?
God trek nie klipharde strepies nie

“Die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal. U het dit neergelê en hy kan dit nie oorskry nie.” So sê Job in Job 14:5. Nee, dit is nie een of ander Bybelse leerstuk, wat Job hier uitspel nie. Inteendeel! Hy is in hoofstuk 14 besig om God aan te kla. Hy meen God is onregverdig, want Hy het blykbaar een of ander onwrikbare plan in plek, waarvan Job die slagoffer is. Job voel hy is soos ’n marionet aan ’n toutjie in God se hande. Dit lyk vir hom of God doen net wat Hy wil. Hy is so sterk dat Hy mense se lewe in ’n afgemete stukkie tyd inhok. Daarom vertel Job padlangs vir God die bome van die veld is baie beter daaraan toe as mense. Al gaan hulle takke dood, loop dit later weer uit. Al word hulle afgekap, groei hulle weer. (Job 14:7-13) Hy geniet egter nie dieselfde genade nie; hy gaan sommer direk na die doderyk toe. Sy strepie is blykbaar getrek.


Dit is duidelik dat Job se woorde in vers 5 nie bedoel is as ’n algemene leerstuk oor ’n deterministiese God nie. Dit is deel van Job se aanklag teen God, waarin hy Hom van onregverdigheid beskuldig. Ons mag dus nie hierdie teks veralgemeen en aflei vers 5 is van alle mense onder alle omstandighede waar nie. Die skuif, wat ons saam met Job moet maak, is om God se wil en plan vanuit Sy perspektief te hoor. Presies dít openbaar God in Job 38-41 aan Sy kneg. Jesus self leer vir ons ewe duidelik wat God se wil is in Johannes 6:38-40. Dit gaan daaroor dat ons gered moet word. Dit is God se wil dat ons vir Christus sal leef en eendag ook vir Hom sal sterf. (Romeine 14:7-9) Dit is God se plan dat niks ons uit Christus se hand sal ruk nie. (Johannes 10:28-30) Christus is ons enigste sekerheid. Ons bou nie ons hoop op vals sekerhede rondom getrekte strepies nie. Ons weet God manipuleer nie alles en almal se lewens agter die skerms nie. Ons bely en beleef eerder Christus is ons enigste troos in lewe en in sterwe!

bottom of page