Dra jou kruis
top of page

Dra jou kruis


Lees Lukas 14:27


Dit is nie aldag maklik om ’n Christen te wees nie. In die veilige ruimte van die kerk is dit nie veel van ’n probleem nie, maar tussen ongelowiges is dit ’n totaal ander storie. Om Jesus te volg, moet ‘n mens ’n slag gaan sit en jouself afvra of jy dit op Sy voorwaardes kan doen. Hy vra immers dat jy bereid sal wees om jou kruis op te tel en elke dag agter Hom aan te stap.


Wat beteken dit om jou kruis te dra? Verwys dit net na dinge soos siekte, swaarkry of gesinsprobleme? Nee, glad nie. Kruisdra is gelyk aan navolging van Christus. Christenskap is eksklusief. Jy volg Jesus op Sy voorwaardes, of jy bly weg. Hy alleen is die Here in al Sy kinders se lewe. Toe die Heilige Gees in ons lewe ingetrek het, het Hy die duiwel uit ons harte gegooi. Daar is nou nie meer blyplek vir die Satan in God se aardse tempel nie. Ons is nie ‘n klomp kommunes, waar Jesus en die Bose dieselfde adres met mekaar deel nie. Daarom moet ons teen die Bose stry. Hy kom klop telkens by ons lewens aan om ons sover te kry om dinge te doen waarvan die Here niks hou nie. Maar ons het gelukkig die groot krag van die Gees tot ons beskikking. Hy stel ons in staat om néé te sê! Elke keer!


Gebed:

Laat my vandag die prys bereken om U te volg, liewe Here Jesus. Amen.

bottom of page