top of page

Een ding wat mense nie het nie


Lees Deuteronomium 24:19


Daar’s een ding wat die meeste mense nooit het nie - ek praat nie van geld nie, maar van TYD! Wil jy met iemand gesels, dan hoor jy gou-gou: “Ek het nie nou tyd nie.” Mense se dagboeke is vol. Nee, dis oorvol! Ons hardloop van dag tot dag, van afspraak tot afspraak, van vergadering tot vergadering. Vir wat? Maak dit ons lewens een enkele stukkie beter? Help al ons afsprake, beplannings of vergaderings regtig soveel om van die wêreld ‘n lekkerder plek te maak? Nog meer: maak dit onsself een stukkie gelukkiger? Of jaag ons maar net deur die dae, weke, maande en uiteindelik ook deur ons lewe om stukkend en moeg te sterf? Wat ‘n tragedie.


Hoe stop jy jou dolle gejaag? Wel, maak prima-tyd vir die belangrikste mense in jou lewe: God, jou geliefdes, vriende, jouself en jou medemens. Laat ‘n slag toe dat die Gees jou daaglikse Binnehuisversierder word en laat Hy jou fokus op God en ander in nood plaas. Dan verander alles. Dan kry jy ‘n nuwe hart saam met ‘n nuwe hemelse horlosie en sommer ook ‘n Geesgeskrewe dagboek. Dan het jy ook tyd vir die belangrikste mense in God se oë - vir diegene, wat swaarkry. Weet jy, God maak elke dag tyd vir jou. Dan kan jy mos dieselfde terugdoen. En ook tyd maak vir diegene naby aan jou en aan Hom. Doen dit en leef!


Gebed:

Here, laat ek my tyd bestuur soos wat U wil. Leer my deur U Gees hoe om dit te doen. Amen.

Comments


bottom of page