Doen meer as om net op te staan vir die waarheid
top of page

Doen meer as om net op te staan vir die waarheid


’n Oorsese vriend sê een keer vir my ons is te veel daarop ingestel om op te staan vir die waarheid, maar te min om vir die Here te leef.

We don’t need a standpoint, we need a walking point,”

was sy presiese woorde.

We also need a living point!

het ek dadelik bygevoeg.


Waarheid, die Here se soort, is nie heel eerste bedoel vir godsdienstige debatte en vir kerklike stryde nie. Die Here se waarheid is heel eerste bedoel om gepreek en uitgeleef te word. Dit is bedoel vir die normale lewe. Waarheid is ’n Persoon: Jesus Christus. Om Hom te volg, is om in die waarheid te leef. Sy waarheid is een wat vry maak en een wat neerslag vind in al ons doen en late. Ja, vir seker moet die waarheid ook ondersoek, deurdink en opgepas word. Die regte kennis is immers ook ’n noodsaaklike bousteen van ons geloof. Ons is nie maar net ’n klomp pragmatiste, wat enigiets glo wat ons pas nie. Ons leef vanuit ingeburgerde beginsels en ’n deurdagte Bybelse teologie, maar ons leef dit altyd uit, anders stagneer ons kennis. Anders raak dit oud en muwwerig. Ons loop ons geloof. Ons leef die Here agterna.

bottom of page