Leer om die regte dinge weg te laat!
top of page

Leer om die regte dinge weg te laat!


Die skrywer en tegnoloog, Johan Maeda, is bekend vir sy wette vir eenvoud. Sy eerste wet vir eenvoud is om in alle kontekste items te verwyder, eerder as om nog dinge by te voeg.

“When in doubt, just remove,” sê hy. Hy voeg egter ook by: “But be careful of what you remove.”

Net so! Dit is baie makliker om iets by te voeg as om iets weg te laat - vra maar vir enige spreker of skrywer. Nog ’n sarsie woorde en nog ’n paar paragrawe kom altyd makliker as om dit weg te laat. Die kuns van die lewe is egter om sekere woorde en dinge sinvol uit te laat, eerder as om nog woorde en nog tyd en nog spasie op te neem.


Ek onthou die verhaal van die ma van William Jennings Bryan (1860-1925), ’n Amerikaanse politikus, wat op ’n dag na een van sy toesprake geluister het. Na die tyd sê sy toe vir hom:

You missed several good opportunities to sit down.”

Wyse woorde! Ekself het mense al te veel kere gemartel deur aan te hou praat toe ek moes stilbly. Ek weet baie ander predikers, sprekers en deelnemers aan gesprekke doen dit ook. Soos wat Leonard Sweet sê:

To ‘sit down’ can be as powerful as to ‘stand up.’

Ons is nie veronderstel om mense se ore pap te praat nie, soos wat my dogter na een van my preke vir my gesê het toe sy nog klein was. Die Here het vir ons twee ore gegee en een mond. Ons moet dit op hierdie manier gebruik. Ons moet luister. Ons moet twee keer soveel luister as wat ons praat. Habakuk 2:20 roep die ganse aarde juis op om voor die Here stil te wees. Spreuke waarsku ons ook ’n hele paar keer teen te veel woorde. Wyse mense praat minder en meer deurdag. Wyse mense dink voordat hulle praat, nie eers nadat hulle klaar gepraat het nie. Wyse mense praat mooi en keurig oor die Here en oor ander mense. Hulle laat graag afbrekende woorde weg. Leer asseblief by Spreuke hoe om jou woorde te vereenvoudig. Praat minder. Verwyder slegte woorde. Voeg opbouende woorde by. Bid dat God jou sal help met die regte “woordverminderinge”.

bottom of page