Die wedloop van die lewe
top of page

Die wedloop van die lewe


Helena Smith skryf in haar nuutste My Lewe nuusbrief oor die wedloop van die lewe.
Die wedloop van die lewe

Tydens die grendeltydperk was ek een van daardie mal mense wat elke dag in die tuin geoefen het. Dit het begin met ‘n bietjie draf en dan ‘n bietjie stap. Later kon ek vir ongeveer ‘n uur lank stadig draf. Ek bedoel STADIG, want, glo my, ek is geen Olimpiese atleet nie.


Tydens die drawwery het ek ook ‘n paar kosbare lewenslesse geleer. Ek het met ‘n pet begin draf, aanvanklik om die son uit my oë te hou, maar toe kom ek agter die pet help my om net op die volgende tree te fokus. Dit het my tot die besef gebring dat ek in die lewe ook in die hede moet leef en regtig elke oomblik teenwoordig moet wees. As ek besig is om te werk, fokus ek op die werk. As ek saam met mense kuier, fokus ek op hulle om hulle spesiaal en geliefd te laat voel.


Ek het gou agtergekom dat elke drafroete ‘n opdraande het. Ek probeer dus om nie te ver vorentoe te kyk as ek ‘n bult aandurf nie. ‘n Mens pak ‘n opdraande tree vir tree aan. In moeilike tye moet ons leer om dag vir dag te leef en soms moet ons selfs uur vir uur leef. Ons mors heeltemal te veel energie deur ons teveel oor die toekoms te bekommer. Gee jou probleme vir God en loop tree vir tree saam met Hom die bult op.


Elke sport het sy beserings en gedurende die grendeltyd het ek ‘n spier met my tuindrawwery beseer. Ek moes toe vir ‘n paar dae rus. Ons kry ook soms terugslae in die lewe. Dan is dit nodig dat ons met onsself genadig moet wees en dinge rustiger moet neem.


Om aan te hou met die drawwery het ‘n mens ‘n goeie skoot selfdissipline en deursettingsvermoë nodig. Soms is dit nodig om deur te druk totdat ‘n mens jou tweede asem kry. Ook in ons lewenswedloop moet ons volhard en aanhou. In Hebreërs 12 vers 1 en 2 lees ons: “Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus…”


Omdat ek so stadig draf, het ek baie tyd vir rondkyk en om die mooi natuur, huise en tuine te bewonder. Ons ken almal die uitdrukking: “Life is a journey, enjoy the ride.” In ons lewenswedloop is dit ook belangrik dat ons die mooi en goeie dinge langs die pad sal raaksien en sal geniet.


Die lekkerste deel van die drawwery is wanneer jy weer terug is by die huis – moeg, maar tevrede! In ons lewenswedloop kan ons ook uitsien na daardie eindstreep, waar Jesus vir ons wag.

bottom of page