Die waarheid is stil, en wysheid, sag
top of page

Die waarheid is stil, en wysheid, sag


Elke nuwe jaar is vir my byna dieselfde. Na die stil, rustige vakansie  trek die jaar weer weg met ‘n bang, nuwe energie en nuwe aktiwiteit. Hierdie nuwe begin word deur stemme, nuwe planne, nuwe voornemens vir die jaar gekenmerk. Hierdie jaar het ek anders geantwoord, wanneer mense my vra wat my nuwejaarsvoornemens is. Ek wil net te midde van al die lawaai die Here hoor. Te midde van die baie aktiwiteite Sy teenwoordigheid beleef. Te midde van die gejaag Sy leiding beleef. ‘n Fliek wat ek gedurende Desember gekyk het, het my nogal laat dink hoe ek voel. In een toneel het ‘n vrou iets aan haar man gesê, wat my nogal laat dink het aan die Bybelse aard van waarheid. Terwyl die egpaar televisie kyk, optogte sien wat deur die hippies gehou is, sê hy:


So many voices, so many lies! It’s hard to hear the truth.

Hierop antwoord sy vrou toe deur te sê:

The truth is always quiet. It’s the lies that are loud.

Ek is nie seker of dit altyd waar is nie, maar ek wens dat ons as gelowiges ‘n bietjie hieraan wil aandag gee. My ervaring is werklik dat die beste idees, diepste wyshede en grootste waarhede nie altyd op die bemarkingsborde langs die pad staan nie. Dis nie te vinde in die lawaai, die hype, die populêre opinies nie, selfs wat die kerk betref. Heel dikwels is dit nie in die meerderhede te vind nie, maar in die minderhede. Dikwels word ware lewe, gemeenskap en goeie nuus nie gekry in groot skares nie, maar in klein gemeenskappies, nie op ryk plekke nie, maar in armoedige buurte. Soms is die beste boek nie die topverkoper nie, maar ‘n ou boekie, wat ons na jare in ‘n stofbelaaide kas ontdek. Baie keer lê die antwoord nie in die konsensus van die vergadering, of die meerderheidstem nie, maar in wyse woorde, wat ‘n ou tannietjie saggies in my oor fluister, omdat sy nie voor mense wil praat nie. Hoe dankbaar is ek nie vir die klein sagte fluisterstemmetjies nie. Dis asof die Here soveel vreugde vind om Homself hierdeur te openbaar, eerder as om ‘n lawaai op te skop.


Ek wil nie moedswillig wees nie. Natuurlik werk die Here ook deur groot dinge en gebeurtenisse en suksesvolle mense. My probleem is dat ons dadelik aan hierdie “groot” dinge heel eerste prioriteit gee. Groot kerke. Suksesvolle Christene. Populêre Christen celebrities. Dít is wat ons beïndruk. Dis jammer.


In die Bybel sien ons dat dit die twee spioene was wat geloof gehad het, nie die tien nie. Dis die jongste seun, die skaapwagtertjie, wat die uitverkore koning was, nie die sterker broers nie. God kies ‘n klein, simpel woestynlandjie, soos Israel, uit om Sy stem te wees, nooit die magtige Egipte, Assirië of Babilonië nie. Soms praat Hy deur die windstilte, soos met Elia, en nie deur die wind of vuur nie. Hy stuur Sy Seun om gebore te word en groot te word in die kleinste dorpies in hierdie simpel klein landjie, nie Jerusalem of Caesarea nie. Johannes leer vir ons dat die bonatuurlike Jesus se lewe so eenvoudig is dat die meeste mense nie Sy Heerlikheid raaksien nie. Hy bring redding deur die eensame dood aan ‘n kruis, nie ‘n indrukwekkende oorwinning of oortuigende besigheidsplan nie. Na Sy opstanding gaan staan Hy nie op die Olyfberg om Sy mag te vertoon nie, maar stap Hy stadig en rustig saam met twee mense op pad na Emmaus, terwyl Hy hulle geduldig aangaande die Messias leer.


Dit lyk asof Jesus Homself dikwels van die hype verwyder.


Wanneer jy dus op soek is na waar Jesus aan die werk is en jy sien ‘n hype, wat groei in populariteit, speel veilig en loop in die teenoorgestelde rigting.

 

bottom of page