Probleemoplossing
top of page

Probleemoplossing



Een waar ding in hierdie lewe is dit dat daar baie probleme is. Dis ewe waar in maatskappye, organisasies en gemeentes. Een van die kritiese take van leiers is dus om toe te sien dat probleme aangespreek en opgelos word. ‘n Suid-Afrikaanse besigheidskonsultant, Esbé du Toit, wys egter daarop dat leiers probleme verkeerd oplos. Hulle pak die probleme op ‘n manier aan wat nie op die lange duur vir die maatskappy of vir sy mense voordelig is nie. Die algemene geneigdheid by leiers is ook om self die antwoorde en oplossings vir die probleme te probeer verskaf. Sulke leiers leef dikwels met die idee dat die dinkwerk in die maatskappy deur die leier(s) gedoen word en die doenwerk deur die “doeners”. Dis ‘n groot deel van die probleem, aldus Du Toit. Probleme word die heel beste die hoof gebied, wanneer daar ‘n kultuur van betrokkenheid (engagement) op alle vlakke is.


Wanneer ‘n probleem ontdek word, stel Du Toit voor dat daar ten minste drie stappe gevolg word.


1.    Stop

 

Te veel kere gebeur dit dat wanneer ‘n probleem gediagnoseer word, leiers sommer dadelik inspring en sonder om mooi te dink tot aksie oorgaan. Dit kan lei tot reaksionêre optrede en impulsiewe gewoontes in die maatskappy. Die beste is eers om werklik te stop, sonder om enige aannames oor die probleem te maak. Analiseer dan die probleem ordentlik en deeglik en maak seker dat die aangeleentheid reg verstaan word.

 

2.    Kies die regte mense (dis nie wie jy dink nie)

 

Nou word die totale verskeidenheid van mense in die maatskappy byeengeroep. Daar moet besluit word wie in die ganse organisasie die probleem die heel beste verstaan en kan oplos. Wie het met ander woorde die beste ervaring, kennis en vaardigheid om die probleem op te los. Tweedens word die persoon gekies wat die minste van die probleem verstaan en die saak die minste sou kon oplos. Hierdie twee mense verteenwoordig dan die twee teenpole van die werknemerskorps.

 

3.    Laat die verkose groepie die probleem sáám aanpak


Nou moet hierdie twee mense, die mees waarskynlike sowel as die minste waarskynlike die probleem saam aanpak. Daar mag meer as twee mense in die span wees, maar die helfte moet verteenwoordig word deur waarskynlike oplossers en die ander helfte deur onwaarskynlikste oplossers. Die logika agter hierdie stap is dat albei groepe op hierdie manier die meeste gaan leer. Die mees onwaarskynlike persoon vra dan gewoonlik die mees praktiese vrae aan die persoon, wat beter weet. Die waarskynlike persoon dink gevolglik aan dinge, waaraan hy nie sou dink sonder die ander persoon nie. Indien die saak saam só opgelos sou word dat albei die proses en die oplossing goed verstaan, dan wen die hele maatskappy. Op hierdie manier het almal ook ingekoop en eienaarskap van die resultate geneem en kan daar verseker word dat almal verstaan.


Op hierdie manier word ‘n bemagtigende kultuur geskep, waar voortgaande probleemoplossing spontaan en standhoudend kan plaasvind, selfs wanneer die leier(s) nie meer daar is nie.

bottom of page