Is die Here met jou tevrede?
top of page

Is die Here met jou tevrede?


Lees Ps. 37:23-25


Aan die begin van die jaar het ons voornemens wat ons graag wil nakom. Ons het ons ook voornemens wat ons geloofslewe aangaan. Ons neem dalk ‘n besluit om meer te bid, of meer betrokke by die plaaslike gemeente te wees. Baie keer hou die besluite nie en dan ervaar ons skuldgevoelens. Jy beleef dan dat jy tekort skiet en vergelyk jou eie lewe, met die van mense wat jy ken of bewonder. Dalk voel jy sommer al klaar dat die Here nie teverde met jou is nie.


Ons lees in Ps. 37 dat die Here die rigting bepaal van die mens met wie se lewe hy tevrede is. As die Here so in jou lewe inspreek, lewe jy mos reg en dan moet Hy met jou tevrede wees. Jy mag dalk nie so dink nie, maar die Here is tog met jou tevrede. Ek glo volkome dat daar dinge is wat ek as ‘n gelowige doen, waarmee die Here in Sy hart gelukkig en tevrede is.


As jy vandag die waarheid gepraat het, juig die Here saam met jou. As jy in die afgelope tyd vir ‘n arme iets om te eet gegee het, jubel die engele. As jy vandag iemand met respek behandel het, glimlag die Here oor jou.. Wanneer jy mooi met jou geliefdes, kinders of jou eggenoot praat, stel jy ‘n voorbeel vir andere en sien die Here dit raak.


As die Here elke dag van jou lewe deel is, en Hy jou koers bepaal, is Hy mos tevrede met jou! Wat ‘n wonderlike bevryding is dit nie hier aan die begin van die jaar nie! Lewe ‘n lewe, wat op die koers is wat die Here bepaal. Laat jou deur die Heilige Gees lei, wat jou bewus sal maak van die afdraai en kronkelpaadjies. Bly weg van versoekings, vriende en plekke wat jou van die Here af wegtrek. Vul jou lewe met vriende wat naby aan die Here lewe en op Sy pad stap. Vereenvoudig met ander woorde jou lewe.


Maak 2024 ‘n jaar waarin jy diep bewus is van die Here se tevredenheid met jou. Hoe dieper jy daarvan bewus raak, hoe meer sal jy volgens Sy wil, wil lewe en op Sy koersvaste bane wil beweeg. Dan sal jy vreugde in jou lewe kan vind en met vertroue 2024 tegemoed stap met die wete dat ‘n koersvaste lewe,volgens die wil van die Here, vreugde aan jou Hemelse Vader gee.


Jy is toe ‘n lewende vreugde, waarmee Hy tevrede is!

bottom of page