God kan vir jou ‘n nuwe naam gee
top of page

God kan vir jou ‘n nuwe naam gee


In die ou tyd was dit tradisie om babas na ‘n oupa, ouma, ma of pa te vernoem. So het dit dan gebeur dat klein, fyn babas met allemintige name opgesaal is. Sommige mense volg nog steeds daardie tradisie, terwyl ander eers na die betekenis van die naam kyk en dan die kind vernoem.  Party mense wil graag vir hul kinders ‘n spesiale Bybelse naam gee. Dit maak nie saak wat jou siening hieromtrent is nie, name is belangrik.


Jou naam is vir God so belangrik, dat dit in Sy handpalm gegraveer is. In Jesaja 49:16 lees ons: “Ek het jou naam in  my handpalms gegraveer.” God sal jou nooit vergeet nie.  As ouer weet ons hoe belangrik ons kinders vir ons is en hoe lief ons hulle het.  Wel, God het hulle en jou nog liewer. Hy weet van al jou stres en seer en bekommernisse. Hy het jou lief met ‘n liefde, wat nooit ophou nie.


In Jesaja 43:1 en 2 lees ons: “Luister, só sê die Here, wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel:  Moenie bang wees nie. Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie…” God roep ons letterlik na Hom toe deur met ons bemoeienis te maak. Hy nooi ons uit om op Hom te vertrou en Sy hand vas te hou. Hy buig letterlik na ons toe af om vir ons Sy reddende hand aan te bied.


God kan ook jou naam verander en vir jou ‘n nuwe naam gee. So het Abram, Abraham geword, wat “vader van vele” beteken. Jakob het na sy worsteling met God, Israel geword, wat “God het geworstel” beteken. Saulus het na sy bekering Paulus geword.


God kan jou heeltemal nuut maak en al jou sonde vergewe, as jy Sy uitnodiging aanneem. Dan kry ook ‘n nuwe naam. In Openbaring 2:17 lees ons: Aan elkeen, wat die oorwinning behaal, sal ek van die verborge manna gee en daarby sal Ek vir hom ‘n wit steentjie gee met ‘n nuwe naam daarop gegraveer.   


My wens vir jou vir 2024 is dat jy sal onthou dat God jou baie lief het en jou naam ken.  Gee al jou bekommernisse en vrese vir Hom. Vra Hom om van jou ‘n nuwe Koos, Sanet of Petra te maak, sonder die bagasie van die verlede.

bottom of page