Die vraag is nie of dit maklik is nie…
top of page

Die vraag is nie of dit maklik is nie…


Stephan Joubert skryf in sy nuutste midweek Goeie Nuus oor geloof nie wat nie aldag maklik is nie.
Die vraag is nie of dit maklik is nie…

Dit is nie aldag maklik om ’n Christen te wees nie. Baie mense sê dit. Jesus stem saam. Trouens, Hy het ’n paar keer gesê mens moet dit juis ook weet voordat jy kies om Hom te volg. In Lukas 14 vertel Hy padlangs dat mens die prys van dissipelskap vooraf moet bereken. Iemand wat ’n gebou oprig moet tog voor die tyd bereken of hy genoeg geld en boumateriaal het. Net so moet ’n koning voor die tyd die risiko bereken om teen ’n weermag van 20,000 soldate op te trek as hyself net 10,000 soldate het. In Markus 8 sê Jesus dat om Hom te volg is soos om ’n kruis te dra. Dit is ’n doodsvonnis. Dit gaan jou jou lewe kos. Maar dit is die enigste manier om jou lewe vir altyd te behou.


Verseker is dit nie maklik om Jesus te volg nie. Dit is egter nie die eintlike vraag nie. Die regte vraag is of dit die regte ding is om te doen. Is dit die regte keuse? As die antwoord hierop ja is, dan tel jy jou kruis op en jy volg Hom. Dan verloor jy alles om Christus as enigste wins te verkry, soos wat Paulus in Filippense 3 skryf.

bottom of page