Vergelyking steel ons vreugde
top of page

Vergelyking steel ons vreugde


“Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van 'n ander te vergelyk.” Gal 6:4 ‘83


In 1 Korintiërs 12 gebruik Paulus die liggaam om die verhouding, wat ons as gelowiges in die kerk met mekaar het, te beskryf. Almal het nie dieselfde werk of funksie nie en die een is nie belangriker as die ander nie, maar almal is saam nodig om die kerkgemeenskap op te bou of te laat funksioneer.  Maar, soos vandag, het hierdie gelowiges hulself met hul medegelowiges vergelyk en hoogmoedig hulself as beter beskou. Hulle het onder mekaar gestry oor wie die grootste en belangrikste is.


Paulus was skerp in sy bestraffing, omdat hulle hulself met mekaar vergelyk in plaas daarvan om hulle aan God se standaarde te meet. Hy het hulle ernstig aangespreek om hulle binnegevegte te stop. “Nou ja, ek sal dit nie waag om my te vergelyk met daardie mense wat nou by julle preek en wat so baie oor hulle eie prestasies spog nie. Hulle dink geloof is ’n geestelike kompetisie. Daarom vergelyk hulle hulle gedurig met mekaar om te kyk wie is die beste gelowiges. Dit is dom. Ek sal nooit waag om so iets te doen nie.”  (2 Korintiërs 10:12 DB)


Vandag is dit nog steeds so. Ons vergelyk onsself met ons boeties en sussies in Christus en dan word ons mededingers, waar daar noodwendig ‘n wenner en verloorder moet wees. Verkieslik moet ek die wenner wees! Met so ‘n uitkyk sien ek nie meer my mede-Christene met liefde en genade raak, soos wat Christus na hulle kyk en net die beste vir hulle wil hê nie.


In plaas daarvan dat ek met jaloesie na mense kyk wat meer as ek het, kan ek eerder saam met hulle bly wees. So kan ek bly wees as my kollega / vriendin / vriend ‘n bevordering kry. Ek kan vir God die eer vir hul hardwerkendheid, hul talente en gawes gee. Wanneer ek besef hoe baie ekself ontvang het (dikwels meer as baie ander), kan ek uit dankbaarheid saam met dié, wat groter sukses behaal, bly wees.


Die werklikheid is dat alles wat ek het, ek van God ontvang het – of dit talente, intelligensie, skoonheid of rykdom is. Hy gee verskillende en uiteenlopende gawes aan elkeen van ons om diensbaar in Sy koninkryk te wees. Omdat ek in Christus alles het wat ek nodig het, kan ek op ‘n gesonde manier na ander se lewens en prestasies kyk. Ek kan woeker met dit, wat die Here aan my toevertrou het, ongeag wat dit is of hoe dit met ander vergelyk.

bottom of page