Binne of buite realiteit?
top of page

Binne of buite realiteit?


Ek lees nou die dag in een van die advertensies van ‘n tyddeelmaatskappy in Suid-Afrika, hierdie woorde:


Escape reality!


Onderaan die bladsy nooi die advertensie jou dan uit om een van hulle idilliese plekke tydens jou verloftyd of ‘n af naweek te besoek. Dis die boodskap van ons tyd: Om vreugde te kan beleef, moet ons sekere realiteite ontsnap. Baie gelowiges leef ook hulle lewens so. Ons kan nie in die gewone lewe gelukkig wees nie. Die lewe is veronderstel om altyd voorspoedig te wees. Ons weet dit werk nie altyd so nie. Ons weet die realiteit is meer realisties. Tog verwag ons dit, want sommige mense se gemoedere word uitermate aangetas, wanneer dit nie voorspoedig gaan soos hulle verwag nie.


Dis jammer dat, wanneer sommige mense Jesus begin volg, hulle wêreld kleiner in plaas van groter word. Die spasies, waar hulle vervulling en vreugde beleef, raak nouer, nie breër nie. Baie gelowiges aanvaar nie enige ongemak in hulle lewens nie, raak ongemaklik om konflik in hulle verhoudings te hanteer. Hulle ignoreer eerder konflik of vermy die mense met wie hulle in konflik kan kom. Hulle wil nie in die regte wêreld leef nie. Volgens hulle het hulle “nie dit ook nog nodig nie”. So ontwikkel mense ‘n ontsnappingsteologie. Van Jesus word daar verwag om hulle te help om van sekere realiteite te ontsnap.


Wanneer God die Israeliete uit Egipte red, is dit opvallend hoe dinge steeds skeefloop in die woestyn skeefloop. God se redding plaas hulle nie in ‘n gemaksone nie. Die mense kla steeds, die volk sondig steeds, hulle kry steeds bitter water by Mara. Op ander plekke raak hulle water sommer heeltemal op. Opstande woed onder die mense. God reis egter steeds saam met hulle en werk in en deur hulle. Die woestyn is steeds die woestyn en dis deel van die realiteit, wat ons elke dag saam met God moet hanteer.


Na Jesus se opstanding, hemelvaart en uitstorting van Sy Gees, sukkel die vroeë kerk steeds: vervolginge, kerkprobleme, innerlike konflik, moeilike mense, valse beskuldigings, weerstand, storms op sinkende bote en nog meer. En die vreemde ding is dat Paulus en sy vriende nooit kla nie. Hulle dink nie hierdie moeilikhede, uitdagings en lyding is onredelik nie. Hulle aanvaar dit as deel van die realiteit met God. Dis die regte lewe, die regte wêreld saam met Jesus ... vir eers. Niemand probeer die realiteit ontsnap nie. Die lewe is die lewe. Hier leef ons totdat Jesus weer kom en Sy Heerskappy voltooi.


Tot dan sê Paulus:


Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!


Ons blydskap is hier en nou. In die regte wêreld. In die woestyn en midde-in die storm. In die harde realiteit met al sy dramas en intriges.


Want die kruis leer ons juis dat dit hiér is waar ons vreugde vind en waar God deur Sy Gees aan die werk is.

bottom of page