Die groot gevaar
top of page
  • Writer's pictureekerk

Die groot gevaar

deur Roedolf Botha

In hierdie My Wêreld nuusbrief skryf Roedolf Botha oor die Burger King-houding wat ons teenoor God het. Ons kyk ook vanuit die Ou Testament hoe dit nie noed uitwerk nie.
Die groot gevaar

Die mensdom is ‘n spesie wat daarvan hou om sy eie sin te kry. Ons is Burger King mense. Burger King se leuse is:


Have it your way.

Dis dalk waarom ons hierdie Korona tyd ook so traumaties beleef. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd kan ons nie bloot doen wat ons wil, wanneer ons wil nie. Ons vryheid word beperk. Aan die een kant is dit regtig sleg want ons mense is nie gemaak om in isolasie te leef nie en mense betaal duur aan gevoelens van sinneloosheid, depressie en terneergedruktheid.


Aan die ander kant moet ons baie versigtig wees om elke dag in ‘n wêreld te wil leef waar ons altyd ons sin kry. Wanneer mens die ryk verhale van die Bybel fyn lees, dan sien mens dat daar heel dikwels moeilikheid aan die kom was wanneer mense hulle sin gekry het. In Genesis het Abraham die “Burger King-ding” met Lot gedoen en vir hom gesê dat hy wat Lot is kan kies watter deel van die land hy wou hê.


Lot, have it your way.

Lot kies toe natuurlik die beste grond vir homself uit, terwyl Abraham tevrede was met die res. Die uiteinde van die storie vertel egter hoe Lot vinnig moeilikheid opgetel het met sy bure terwyl Abraham suksesvol was en baie vinniger ryk geword het. Ook wanneer ons kyk na die storie van Israel wat graag hulle eie koning wou hê, sien ons dieselfde uitkoms. God wou nie vir sy mense ‘n koning gee nie omdat Hy geweet het Israel misken daarmee God se koningskap. Hy het ook geweet wat die mag van ‘n koning aan ‘n volk kan doen en het die mense daarteen gewaarsku. Hy laat egter toe dat die volk begaan met die houding:


Have it your way.

Israel kry toe hulle koning en die uiteinde was chaos! Wanneer mens lees deur die boeke Samuel, Konings en Kronieke dan hang jou mond oop wanneer jy sien watse dinge hierdie konings aan mekaar, en aan hulle eie mense gedoen het! Selfs die goeie konings soos Dawid en Salomo doen sulke wrede goed dat ek skaam om hulle name te noem in goeie geselskap. Die konings van Israel was in ‘n groot mate verantwoordelik vir die skeuring van die ryk en die ondergang van die volk. Wanneer God dus soms vir ons ons sin gee moet dit nie noodwendig verwar word met sy goedkeuring van dit waarmee ons besig is nie. Wanneer ons ons eie sin kry, kan dit soms juis ‘n toets wees eerder as ‘n seën.


Die mees radikale vorm van hierdie woorde, have it you way, kry ons egter in Romeine 1:18-28 waar Paulus praat oor die huidige- en komende oordeel van God. Die uiteinde van mense wat regdeur hulle lewens konsekwent aandring dat hulle eie wil geskied, is die mense wat eindelik onder God se oordeel gaan staan. In verse 24-28 sê Paulus drie keer dat God hulle oorgee aan hulle eie wil!


Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor... (v 24)
Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte... (v 26)
.... gee Hy hulle oor aan hulle eie verdraaide opvattings... (v 28)

Dis wat hel is. Hel is wanneer God ons uiteindelik aan onsself oorgee. Dis God wat finaal sê: Have it your way. Dis God wat die gebed van die rebel verhoor en haar aan haar eie lot oorlaat. Vir ‘n moedswillige ongelowige het dit katastrofiese implikasies. Dit geld ook vir sommige godsdienstige mense, want baie eiewillige mense beweer dat hulle in God glo. Hulle misbruik egter godsdiens juis om God se waarheid te onderdruk en hulle eie sin te kry.


Vir ‘n opregte Jesus-volgeling beteken dit egter ‘n bewussyn dat die geskied van ons eie wil, uiters negatief op ons kan inwerk. Alhoewel ons onder die ewige genade van Jesus staan, kan die Here ons ook tydelik – terwyl ons soms hardkoppig vashou aan ons eie opinies en besluite – aan ons eie wil oorlaat om ons te leer. Hy doen dit egter nooit liefdeloos en genadeloos nie. Hy is ons Vader. Hy kyk na ons. Maar deel van sy Vaderlike dissipline is om soms tydelik toe te laat dat ons eie wil sy eie pad loop, om ons op die hartseer uiteinde daarvan te wys. Juis daarom behoort die gebed van ‘n volwasse gelowige altyd te wees:


Here red my van myself! Here, laat U wil geskied, nie myne nie!

Juis daarvoor het Jesus gekom. Om ons te red van onsself.


Vergeet van Burger King, sou Jesus sê. Dis in elk geval junk food! Verloën jouself eerder, neem op jou kruis en volg My...


En jy sal lewe!

bottom of page