top of page

Daar’s nog plek in die dissipels se boot


Ek wens ek kon daardie nag aanboord gewees het van die visserskuit, waarvan Johannes 21 vertel. Hier lees ek hoedat ’n paar van Jesus se dissipels teruggekeer het na Galilea kort na Sy opstanding uit die dood. Hulle het toe besluit om te gaan visvang. Onder andere was Nataniël aan boord. Toe hyself vir die eerste keer gehoor het van Jesus daar in Johannes 1, was sy vraag: “Kan daar iets goeds uit Nasaret kom?” Maar toe ontmoet Nataniël vir Jesus . “Rabbi, U is die Seun van God!” het hy dadelik uitgeroep (Johannes 1:49).


Johannes en Jakobus was ook op daardie boot op die See van Galilea. Markus 10 vertel vir ons dat hulle nog kort voor Jesus se kruisiging die beste sitplekke in die hiernamaals by Hom wou hê. Toe leer hulle by Jesus dat om groot te wees, moet jy klein wees. En om eerste te wees, moet jy laaste wees.


Thomas was ook aan boord daardie nag. Vol bravade het hy ’n ruk tevore gesê hy is bereid om saam met Jesus in Jerusalem te gaan sterf (Johannes 11:16). Maar toe verloor hy sy geloof. Hy kon nie glo Jesus het opgestaan nie, tot en met daardie tweede Sondagaand na die kruisiging. Toe kom soek Jesus hom op. Toe roep Thomas uit: “My Here en my God” (Johannes 20:28).


O ja, Petrus was ook aan boord. Dit is hy, wat vir Jesus drie keer verloën het. Maar toe wag Jesus hom en die ander dissipels die volgende oggend na die bootrit daar op die strand in. Nee, Jesus het hulle nie ingewag met ’n kwaai gesig om hulle vas te vat dat hulle so kleingelowig was nie. Alles behalwe. Jesus het hulle met ontbyt ingewag. Dit is presies wie Jesus is. Hy kom altyd na ons toe met ’n mandjie kos. Hy is nie besig met regsien-ekspedisies nie. Daarom is daar plek vir gebroke mense, soos jy en ek, in die dissipels se boot. Boonop wag ’n porsie hemelse kos uit Jesus se hand ook op ons elkeen.

bottom of page