Bekommernis is ‘n beslommernis
top of page

Bekommernis is ‘n beslommernis


O, ek dink ek sou heel moontlik die wêreldkampioenskap vir kommerkouse kon wen! As daar niks is om my oor te bekommer nie, wonder ek wanneer die volgende slegte ding gaan gebeur! As mense vir jou vertel dat hulle in die nag rondgerol en skape getel het, beteken dit dat hulle bekommerd was oor iets. In ons besige, ingewikkelde en gebroke wêreld sukkel baie van ons met bekommernis.


‘n Tyd gelede het ek die boek, Winning the war on worry, deur Louie Giglio gelees. Ek het ‘n daadwerklike besluit geneem en probeer nou doelgerig om iets aan my kommerkwaal te doen.


Arthur Somers Roche sê die volgende oor bekommernis: “Worry is like a thin stream of fear trickling trough the mind. If encouraged, it cuts a channel into which all thoughts are drained.” As ons bekommernis toelaat in ons lewens, kan dit ons hele denkpatroon beïnvloed en ons fisies uitput. Louie Giglio sê die volgende oor bekommernis: “Worry pushes you past today and into tomorrow.”


In ‘n proefneming oor bekommernis is ‘n groep jongmense in Amerika gevra wat op daardie oomblik hul grootste bekommernis of vrees was. Na ‘n tydperk is dieselfde mense weer ondervra en toe blyk dit dat in 91% van die gevalle hulle grootste vrees of bekommernis nie bewaarheid is nie. Hulle het verniet die bobbejaan agter die bult gaan haal!


Bekommernis is ‘n keuse. Begin jou dag deur te sê: Ek gaan nie vandag bekommerd wees nie. Ek gee my bekommernisse vir God. Dit is beslis ook waar dat jy nie die oorlog teen bekommernis alleen kan oorwin nie. Louie Giglio sê dat ‘n mens die “what ifs” in jou gedagtes moet vervang met “what is”. God is groter as jou bekommernis. En sou die slegte dalk gebeur, die “even if”, kan jy weet dat God ook groter is as jou storm en dat Hy storms kan stilmaak.


Vertel vir God van jou bekommernis, maar as daar iets is wat jyself daaraan kan doen, doen dit. As jy jouself bekommer oor onvoltooide werk, begin dadelik en voltooi dit, wat jy kan. Moenie te ver vooruit oor jou werkslas dink nie. Moenie te ver vooruit oor énigiets dink nie. Pak jou lewe dag vir dag aan.


Een van my gunsteling Bybelverse is Filippense 4:6 en 7: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles, wat julle nodig het, van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles, wat Hy doen. En God se vrede, wat meer is as wat ‘n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou, omdat julle aan Christus Jesus verbonde is.


Mag jy jou bekommernisse vir God gee en Sy vrede ervaar!


bottom of page