Bitterheid
top of page

Bitterheid


Genesis 4 vertel die bekende verhaal van Kain se woede en bitterheid, wat uitloop op die moord van sy broer, Abel. Kain was kwaad en bedruk, omdat die Here Abel se offer aanvaar het en nie syne nie. Die Bybel sê nie hoe lank Kain kwaad was nie. Wat ons uit sy optrede kan aflei, is dat hy het met sy gedagtes geloop en broei het, totdat dit in bitterheid omgesit het. Al wat hy kon sien, was sy verlies, die “onreg”, wat hom aangedoen is – sy oë was van God en Sy liefde weggedraai. Selfs God se waarskuwing dat die sonde hom wil opvreet, het nie sy hart verander nie. Hierdie bitterheid, wat hy gekoester het, het so sterk geword dat dit uiteindelik tot moord gelei het.


Ek kan ook soos Kain in bitterheid oor ‘n onreg, wat my aangedoen is, verval as ek nie versigtig is nie. Dit kan iets kleins wees of deel wees van lewensveranderende gebeure – dalk ‘n familielid, kollega, besigheidsvennoot, wat my te na gekom het. Die rede mag van Kain s’n verskil, maar as ek dit op dieselfde manier as hy hanteer, gaan ek ook in dieselfde slaggat trap.


As ek heeltyd net op my verlies en regte fokus, gaan ek natuurlik verbitterd wees, gaan ek nie kan vergewe nie. Hierdie verbittering vergiftig egter slegs myself, my geestelike lewe en my verhouding met God. Ek sien nie die groter prentjie van Sy genade en ontferming raak nie.

Die enigste teenvoeter vir hierdie sondige bitterheid is om te vergewe. As ek die omvang van die vergifnis en genade, wat ek ontvang het, my eie maak, sal ek met groter gemaklikheid ander kan vergewe. Dan sal ek die groter prentjie van God se goedheid en liefde raaksien en vry kom uit die greep van bitterheid.


Alhoewel ek niks aan die uitkoms van hierdie onreg kan doen nie, is ek nie ‘n hulpelose slagoffer hiervan nie. Ek kan steeds kies hoe ek daarop gaan reageer. Ek kan kies, al neem dit tyd en al is dit swaar. Om te vergewe is soos om ‘n ui af te skil - lagie vir lagie en met baie trane, kan ek met die Here se genade en krag die pad van vergifnis stap.


“When anything in life is an absolute requirement for your happiness and self worth, it is essentially an 'idol,' something you are actually worshiping. When such a thing is threatened, your anger is absolute. Your anger is actually the way the idol keeps you in its service, in its chains. Therefore if you find that, despite all the efforts to forgive, your anger and bitterness cannot subside, you may need to look deeper and ask, 'What am I defending? What is so important that I cannot live without?'“

- Tim Keller

bottom of page