Wat maak jou gelukkig?
top of page

Wat maak jou gelukkig?


Wat maak jou gelukkig? Ek het nie die vaagste benul nie. Smaak verskil. Ek weet wel wat mý hart met die warm gevoelens van geluk en tevredenheid vol maak:


Om te luister na Evgeny Kissin se roerende vertolking van Chopin se “Raindrop”-prelude en te onthou hoe ek, na jare se rebelse teenstand teen vriendelik-verpligte klavierlesse, in matriek die vreugde van die klawers in die reëndruppelklanke ontdek het.


As ʼn Bybelvers, eens ʼn harde dop propvol potensiaal, op die regte oomblik soos ʼn rooiryp granaat voor my oopbreek, begryp ek uiteindelik die wonder van die sublieme Godswoorde.


Ek luister vir ʼn uur lank hoe my sensitiewe eerstejaarskind nie uitgepraat kan raak oor die geluk wat hy in sy studies vind nie en verstaan dat hy ʼn louwarm bergpoel gevind het waarin hy saam met eende van sý dam in die sonlig kan baai.


Die eerste beker stoomwarm koffie, wat my man elke oggend vir my in die bed bring, help om my wakker te maak. Die tweede beker drink ek met waardering vir die liefde, waarmee dit gemaak is, die bitter aroma en behaaglike dankbaarheid teenoor ʼn Here, wat die donker geroosterde koffiebone oor my pad gebring het.


Elke maand word daar by die plaaslike hoërskool kruideniersware aan desperate gesinne uitgedeel. Eers word daar voorraadopname gehou - weer en weer is ek stom van verbasing oor die weduwee se kruik, wat maar net nooit opdroog nie. Volgende moet drie trollies met groot moeite deur die supermarkgange gestuur word. Dan word die pakkies gepak en uitgedeel en ek verstaan met my hele hart waarom Paulus geskryf het dat dit ʼn mens gelukkiger maak om te gee as om te ontvang!


Dit maak my gelukkig om op ʼn Vrydagaand na ʼn lang week die stresjassie uit te trek: Die eerste sluk van ʼn glas Kaalvoetmeisie, die stomende poetoepap met geroomde mielies en shebasous, die variasies van kleur, tekstuur en vorm in die slaai en die hartlike kuier saam met mense vir wie ek oneindig lief is.


Ek kan in my ma se Laeveldtuin loop en in verbasing gaan stilstaan oor die wonder van die skepping, die oorweldigende kleure en verskeidenheid, die groen, selfs in die winter, en weet dat die Skepper ook vir my met kunstige kreatiwiteit geskep het.


Ek vind geluk in elkeen van my kinders se gewoontes, persoonlikhede en “shenanigans”, die Wildtuin, sonsondergange by Jacobsbaai, Carnarvon, die Namakwalandse blommekombers in Augustus en om oor De Beersnek in Schoemanskloof die oorweldigende groen Laeveld binne te ry. Om onder ʼn vuurwarm stort te staan, 0.03-tekenpenne en papier, my man se stem na ʼn lang dag, ons agt hondekinders, vetplantjies, mense en die feit dat elkeen ʼn verlede, hede en toekoms koester bring vir my vreugde. Andersheid, die reg, die werk van Maurits Cornelis Escher, Coldplay se unieke musiek, die misterie van die eksentrieke, die skoon nadat die vuil skottelgoed in die skottelgoedwasser verdwyn het, Netflix, die verruklike aromas van speserye en parfuum, om mikro-blaargroente en slaaispruite te kweek, die glimlag van ʼn staatsamptenaar, wat die regering se donkiewerk moet doen en Chenin Blanc maak my hart gelukkig.


Dan is daar die blydskap, wat oor alles die koepel span: Die kennis en erkenning van God en die wonderlike werke van Sy hande.


Daar is nog baie, baie meer dinge wat my gelukkig maak. Dit is net so verskriklik jammer dat ek dikwels kies om eerder in depressie te verval oor al die dinge wat my ongelukkig maak ...


Deel gerus in die Facebook-kommentare wat jou gelukkig maak!

bottom of page