Die simboliek van wit klere
top of page

Die simboliek van wit klere


My liefde vir wit klere was op ‘n stadium so opvallend dat meer as een kennis opmerkings daaroor gemaak het. Hierdie voorkeur vir wit klere het ontwikkel toe ek ‘n paar dekades gelede opnuut my lewe aan die Here gewy het. Dit was waarskynlik ‘n onbewustelike manier om te getuig van ‘n lewe, wat nuut en skoon deur die bloed van Jesus gewas is.


Die preek, wat tot hierdie “wit fase” aanleiding gegee het, het gegaan oor die brief aan die inwoners van Laodicea. (Openbaring 3) Die swart skape van die area het “minderwaardige” wol gelewer en Jesus het die gemeente genooi om by Hom wit klere te kom kry. Ek het onmiddellik besef dat dit Jesus se lewe gekos het om my te kon “klee in wit”, wit klere, wat getuig van redding en ‘n nuwe lewe in Hom. My lewe het op daardie stadium egter nie daarvan getuig nie. Daardie aand het ek gebid: “Here, ander dinge het vir my belangriker as U geword. Kom neem asseblief weer die eerste plek, die ereplek, in my lewe in.”


Mettertyd het ek die Bybel beter leer ken en gesien dat Salomo in sy wydingsgebed vra: “Mag U priesters, o Here God, geklee wees met redding, en mag U gelowiges juig in U goedheid.” (2 Kronieke 6:41b NLV) Later, in die Nuwe Testament, het ek ontdek dat Petrus ons daaraan herinner dat ons ‘n koninklike priesterdom is. (1 Petrus 2:9)


Die wonderlike tempel, wat Salomo gebou het, sou ‘n leë dop sonder die heerlike teenwoordigheid van God wees. So ook is die mooiste “trimmings” van uiterlike mooimaak, wonderlike simboliek, mooiste gewoontes, eintlik niks of slegs ‘n leë dop, as dit (ek) nie met God se heerlike teenwoordigheid vervul is nie.


Wanneer ek Jesus aanneem, kom die Heilige Gees in my woon. My verantwoordelikheid is om Hom in elke “vertrek” van my lewe toe te laat of Hom ‘n eregas te maak of Hom met ‘n wilsbesluit in beheer te plaas. Ek doen dit in plaas daarvan om toe te gee aan my ou sondige natuur, wat so maklik kop uitsteek in die “slaapkamer” van my seksualiteit, die “eetkamer” van my begeertes, die “sitkamer” van my sosiale gewoontes, die “kluis” van my geld en besittings, die “bibilioteek” van my gedagtes.


My Hemelvader se groot genade is steeds daar, wanneer ek toegelaat het dat my ou, sondige self oorneem. Wanneer ek met woorde of gedrag God se Naam oneer aandoen, kan ek dit teenoor Hom bely, vergifnis ontvang en weereens met my “wit kleed”, gevul met die Heilige Gees, ‘n koninklike priester wees. Dan kan ek ander met die Koning se liefde bedien.

bottom of page