Baie geskenke vir baie mense
top of page

Baie geskenke vir baie mense


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Heilige Gees artikel oor die gawes wat God gegee het aan Sy kerk.
Baie geskenke vir baie mense

Wanneer die Here geskenke uitdeel, dan gee Hy nie klanksisteme, kerkgeboue, rekenaarskerms, elektroniese sangborde of musiekinstrumente aan die kerk nie. Nee, dan gee Hy lewende mense aan ander mense. Mense is die Gees se geskenke aan Sy kerk. Paulus noem hulle vervolgens in 1 Korintiërs 12:28 - 30 in volgorde van hulle impak: apostels, profete, leraars, wonderwerkers, genesers, helpers, ensovoorts. Nee, Paulus sê nie dat hierdie ‘n rangorde is, asof hierdie gawes tot statusverskille in die kerk moet lei nie. Inteendeel - hy maak dit duidelik dat sekere van hierdie menslike geskenke groter impak het op die liggaam van Christus as andere. Kortom, nie almal in die kerk kan apostels, of profete of sprekers in vreemde tale wees nie. Maar dit maak ook nie saak nie. God gee hierdie indiwidue as geskenke aan Sy kerk soos wat Hy dit wil, nie soos wat onsself besluit nie. Daarom moet ons vrede maak met daardie gawes, wat ons wel ontvang het, en nie soos ander probeer wees nie.


As ek nie vrede maak met wie ek is en watter gawes ek tot opbou van Jesus se liggaam ontvang het nie, gaan ek onvergenoegd bly. Dan gaan ek gedurig in kompetisie met ander Christene leef. As ek heeltyd soos ander probeer wees, kan ek egter maar net die tweede beste ander mens wees en nie die beste ek, wat die Here my geskep het om te wees nie.


Gebed:

Dankie vir wie ek is in U en vir die geskenke wat U aan my gegee het, Gees van Christus. Amen.

bottom of page