Ateïstiese geloof
top of page

Ateïstiese geloof


Deur die loop van die afgelope vakansie kyk ek toe weer Indiana Jones and the Last Crusade. Sedert die vroeë 1980’s is Indiana Jones seker een van my gunsteling fliekkarakters. In een van die tonele het daar ‘n frase opgekom wat my weer opnuut laat dink oor my eie geloof. Na aan die klimaks van die fliek staan Jones voor ‘n uiters riskante keuse, waarby hy nie verby kon kom nie. Een van die ander karakters, Donovan, daag hom toe uit met die woorde:


Well, dr. Jones, it is time ask yourself what you really believe.


In sy geval het die saak inderdaad wel gegaan oor geloof in die Bonatuurlike. As argeoloog het hy (Jones) homself deur die jare besig gehou met allerhande godsdienstige oudhede en opgrawings, maar het baie selde vir homself afgevra of daar Goddelike waarheid steek in sommige godsdienstige aansprake. Nou het hy geen keuse meer gehad nie. Daar was geen pad uit nie. Dit sou nie help om verder te redeneer oor die historiese waarde van sekere goed, die waarskynlikheid van die egtheid van God nie. Hy moes nou persoonlik besluit of hy gaan optree in ooreenstemming met wat hy dink waar is of nie. Hy moes vir homself vra: Glo ek of glo ek nie? Indien hy nie werklik glo nie, hoef hy nie op te tree nie. Indien hy wel glo, vra sy geloof die nodige, gepaste risiko en gedrag van hom.


Dit voel vir my vandag asof ek vir vele gelowige mense (dikwels myself ook) wil skud en vra:


Wat glo jy werklik??


Want jy praat nie nou soos ‘n Jesus-volgeling nie. Jy tree nie op soos ‘n Jesus-volgeling nie.


Baie mense bely dat hulle Jesus volg, maar hulle praat en doen soos ateïste.


  • Hulle kerm en kla oor beurtkrag net soos iemand, wat geen hoop in God het nie.

  • Hulle ry op die pad met soveel aggressie soos iemand, wat nie glo dat God dit ook laat reën oor ander motoriste nie.

  • Hulle praat oor mense van kleur net soos iemand wat geensins glo in ‘n versoenende God, wat al die nasies vir Homself geskep het nie.

  • Hulle jaag steeds net so na materiële dinge as iemand wat al sy hoop op slegs hierdie wêreld plaas.

  • Hulle is net so bitter soos iemand wat geensins glo in ‘n Verlosser, wat van die kruis af Sy vyande vergewe het nie.

  • Hulle maak hulle kinders net so gemaksugtig en eiegeregtig groot soos iemand wat geensins glo in ‘n Oppergesag, wat gehoorsaamheid eis van ons kinders nie.

  • Hulle maak net so min betekenisvolle opofferings vir hulle Here of medemens, of eie persoonlike groei, soos iemand, wat geensins glo in ‘n Redder, wat Homself aan die kruis opgeoffer het nie.

  • Hulle is net so suinig soos iemand wat geensins glo in ‘n Here wat arm geword het sodat ons ryk kan wees nie.

Dit blyk asof daar nog nooit so ‘n kloof was tussen wat mense sê hulle glo en wat hulle leef en doen nie. Daar word vertel dat, toe iemand op ‘n keer vir die Deense filosoof, Soren Kierkegaard, wou sê wat hy glo, Kierkegaard hom summier gestop en gesê het: Ek sal eerder kyk hoe jy lééf, daarna sal ék vir jóú sê wat jy regtig glo. Sy punt was juis dat daar in sy tyd baie mense met hulle geloof op hulle mou rondgeloop het oor wat hulle kastig glo, maar dat hulle lewens dit glad nie weerspieël het nie. Jy kan sê wat jy wil en praat soos jy wil, maar wat jy werklik in jou hart glo, sal ‘n mens in jou lewe kan sien!


Hierdie woorde van Kierkegaard het my nogal getref, toe ek dit die eerste keer hoor. Dit het my laat vra: As ék geen woorde gehad het nie, sou my lewe genoeg soos Jesus lyk dat ek ander mense na Hom sal wys?


So help Indiana Jones en Kierkegaard ons om vir onsself te vra:


It is time to ask yourself what you believe.


As jy sê jy glo in Jesus, praat en leef dan soos Hy.

bottom of page