Gebed – kan dit oortollig raak?
top of page

Gebed – kan dit oortollig raak?


Jesus, en later Paulus ook, het ons tog aangemoedig om gedurig te bid. Is dit dan moontlik dat baie bid dalk oortollig kan wees? Vir myself is die versoeking soms groot om net te sit en bid en wag dat God die situasie verander of die swaarkry verlig. Dis dikwels (ge)makliker as om in gehoorsaamheid op te staan en in die krag (en wysheid) wat die Gees van God gee, die uitdaging of onbekendheid van die volgende stap te gaan trotseer.


Soos wat Erwin McManus sê:

We want to pray because we are afraid to act. Want to be still because we’re paralysed.”

Ek moes leer dat ek nêrens gaan kom as ek wel bid en dan maar net weer die nuwe dag aanpak mét my negatiewe bagasie nie. In plaas daarvan dat ek vasgevang bly in dieselfde foute, keuses, pyn en vrese van gister, is dit nodig dat ek bewustelik kies om te dóén wat God van my vra. Om só die onbekende toekoms (vry van die oorspronklike krisis of trauma) met vertroue binne te gaan, te gaan dóén wat God my in my tyd saam met Hom geleer het. (Sien Jakobus 2:14vv)


So het ek byvoorbeeld, in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag, besluit om ‘n persoon, wat my baie seergemaak het, te vergewe. Ek het wel begin met die proses van vergifnis, totdat daar weer iets gebeur het wat die ou pyn en bitterheid kom oopkrap het. Terwyl dit waarde het om met die seer by die Here se voete te plaas en te huil, het ek ontdek dat ek beter op die pad van genesing vorder as ek doen wat 1 Petrus 3:9 leer en Sy seën afbid oor die persoon, wat my seergemaak het. Dit het my gehelp om op die regte tyd in liefde na dié persoon uit te reik in plaas van te bly vashou aan ‘n pynlike herinnering, aan die pyn van die verlede.


Dit is dus nódig dat ek bid. Dis belángrik dat ek bid, dat ek stil word voor die Here. Ek moet egter nie ongehoorsaam wees aan wat Hy vir my wys deur Sy Woord of deur die sagte influistering van die Heilige Gees. Dalk bevestig Hy dit deur ‘n baie toepaslike boodskap, wat ek “toevallig” gehoor het nie.


Ek kan (en moet) bid en dan op die Here vertrou om vir my die krag en insig (en guns) te gee, wanneer ek my geestelike “sokkies” optrek en die uitdagings van vandag en die dag van môre met vertroue en met die krag van ‘n arend binnestap. (Jesaja 40:31) So kan ek nie net myself losmaak van pynlike situasies in my verlede nie, maar selfs oorwinning oor ‘n verslawende gewoonte behaal.

bottom of page