Almal doen dit
top of page

Almal doen dit


Lees Titus 3:8


Jy ken die nuwe wagwoorde: “Almal doen dit; daarom kan ek ook.” “As niemand by stopstrate of verkeersligte stop nie, hoekom moet ek dit doen?” “As niemand hulle aan iemand anders steur nie, hoekom moet ek dit doen?” Hierdie vrae is die nuwe wagwoorde, die nuwe manier van leef vir te veel mense in ons land. Hoekom moet ek dit dan vandag oorweeg om heeltemal anders as “almal” te wees. Wel, omdat ek nie “almal” se slaaf is nie en ook omdat “almal” dikwels verkeerd is.


Sommiges binne hierdie “almal”-geselskap trek op die ou end die res van “almal” af tot by hulle selfsugtige standaarde. My norm is daarom nie wat “almal” dink of doen nie, maar wat die Gees in die Woord en in my lewe openbaar. Wat Hom gelukkig maak, dit doen ek. Wat Sy eer bevorder, daaroor droom en dink ek. Die Heilige Gees laat my nie toe om agter “almal” se stroom van negatiwiteit, traak-my-nie-agtigheid en liefdeloosheid aan te swem nie. Hy gee my nie toestemming om in middelmatigheid of selfsug te verval nie. Nee, Hy het gekom om my lewe vol en ryk en mooi te maak, ‘n sierraad vir God. Daarom moet ek hierdie nuwe spelreëls navolg en uitleef en dit vir medegelowiges leer. Ons moet wys daar’s ‘n nuwe pad, die Gees S’n.


Gebed:


Bou U pad asseblief in ons lewens in, Gees van God. Amen.

bottom of page