Ons dra sy handtekening
top of page

Ons dra sy handtekening


Lees Titus 3:6


Ek onthou hoedat Gandalf iewers in The Lord of the Rings-sage sê dat ons nie die tye kan kies waarbinne ons gebore word nie. Maar dan voeg hy by: “But we are responsible for the time that is given to us.” Sjoe, dis ware woorde. Baie van ons sou dalk elders wou geleef of gebly het. Of in ‘n ander, meer vreedsame tyd in die wêreldgeskiedenis gebore gewees het. Dis egter alles net drome. Ons leef juis hier in millennium drie in ‘n wêreld met chaos en skoonheid, dood en lewe, hoop en hopeloosheid, wat tegelyk rondom ons afspeel. Dis hier dat ons ons eie stukkie verskil elke dag moet uitleef tot eer van die Here.


Ons is nie maar net noodlotprodukte, wat willoos saam met die res van die stroom iewers heen spoel nie. Ons dra God se handtekening op ons. Sy Gees is ons seël van egtheid. Hy is die hemelse waarborg dat ons eg is. Ons is na God se ewebeeld gemaak. Daarom moet ons hier en nou ‘n groot impak maak, die regte soort, wat God se hart sal bly maak. Ons moet vandag hoop uitstrooi in Sy Naam. Dit kos in elk geval net een vriendelike woord, een gebed, ‘n klein daad van omgee, of ‘n sagte handdruk om die Here se lewende handtekening tussen ander te wees. Eerlikwaar, dis mos nie te veel gevra nie.


Gebed:

Dankie Vader, dat ek in ‘n tyd soos hierdie leef. Laat ek dit waardig en tot U eer doen. Amen.

bottom of page