Drie sinne
top of page

Drie sinne


Lees 2 Korintiërs 4:8


As jy wil vorentoe groei in jou verhoudings met die Heilige Gees, asook met jouself en ander mense, dan is daar drie sinsnedes, wat jy dadelik jou eie moet maak. Nommer 1: “Ek weet nie.” Nommer 2: “Ek het ‘n fout gemaak.” Nommer 3: “Ek het van standpunt verander.” Al drie wys jy’s nie te groot in jou eie oë nie. Soms weet jy eenvoudig net nie. Vra maar vir Paulus, wat in 2 Korintiërs 4 ruimtelik erken dat hy nie al die antwoorde gehad het nie. Trouens, hy sukkel soms om God se spoor te vind. Net so wys dit jou eie gebrokenheid en egte menswees, as jy jou foute kan erken sonder om ‘n hoop flou verskonings daarvoor uit te dink. Op dieselfde wyse vra groei nader aan die Here en dieper in jouself in dat jy ook van standpunt moet kan verander. Nee, jy moet soms van opinie kan verander! Anders staan jy doodstil op stagnasiestasie.


Groei maak jou nog meer eg en ook meer weerloos. Dit maak jou beslis ook sterker, ryper en wyser voor God. Dit laat die Gees se sagtheid en oorvloed in jou lewe wen. Hierdie wen begin soms met iets so klein en eenvoudig soos om drie sinne uit jou hart vir God en ander te sê en om oop te wees vir die Heilige Gees se nuwe leerervarings.


Gebed:

Ek het nie antwoorde nie, Here. Ek is volledig oop vir U nuwe werke. Amen.

bottom of page