Al timmerend!
top of page

Al timmerend!


Stephan Joubert skryf in sy nuutste artikel oor werk in ons lewens.
Al timmerend!

N. P. van Wyk Louw het iewers ’n aangrypende gedig oor ’n beiteltjie geskryf. Hierin vertel hy van ‘n klein beiteltjie wat aan ’n groot rots kap. Aanvanklik lyk dit nie asof die beiteltjie hond haaraf met die stuk klip gaan maak nie. Dan, uit die bloute, breek dit in duisende stukke. Ongesiens het die aanhoudende gekap van die beitel sy werk gedoen. Die Heilige Gees werk ook so. Hy kap dikwels stilweg, maar aanhoudend in mense se lewens.

Die Gees se werk is nie noodwendig altyd opspraakwekkend, duidelik sigbaar en op die voorblaaie van die jongste kerknuus nie. Maar dat Hy werk, is gewis. Dat Hy lewens verander, is ‘n feit. Dat Hy stap vir stap en tree vir tree mense op weg na God se plan vir sy nuwe wêreld neem, staan soos ‘n paal bo water vas. Die Gees is aan die beweeg. Die vraag is net of jy toelaat dat Hy aan jou beitel en timmer. Is jy sagte klei in sy hande of klipharde rots? Is jy maklik breekbaar of weerstandig as Hy in jou lewe werk? Een ding moet jy weet: die Gees dwing Homself nooit op jou af nie. Hy is ‘n ware Heer. Hy vra en nooi uit - Hy forseer jou nooit nie. Hy vra jou liefdevolle samewerking, nie jou slaafse onderwerping nie.

Gebed:

Ek is vandag sagte klei in U hemelse hande, Gees van Christus. Amen.

bottom of page