2024: Die jaar van swaarkry én, bo alles, hoop!
top of page

2024: Die jaar van swaarkry én, bo alles, hoop!


Daar is een ding wat ons met sekerheid van 2024 kan sê: Dit gaan nie ʼn maklike jaar wees nie. Die vorige jaar se probleme het nie sommer net verdwyn nie en 31 Desember se moeilikheid spoel maar net oor na 1 Januarie. Daar is natuurlik goeie tye ook in die vooruitsig, maar ek weet uit ondervinding dat swaarkry dikwels soos ʼn donker mistigheid om ons skouers kom hang en alle hoop wegkeer.


Die psalmdigter beskryf in Psalm 107 vier tipes swaarkry en elkeen van hierdie situasies blyk hopeloos te wees.


Sommige van ons het in die barre woestyn verdwaal. Ons soek – honger, dors en sonder sukses – tastend rond na enige vorm van hoop en uitkoms, maar die omgewing bly warm en droog. Dan is daar dié Christene wat hulself op ʼn skip in die stormagtige diepsee bevind. Hierdie skepe styg hemelhoog, duik na die dieptes af en die seevaarders is radeloos van angs. Hulle het, sonder enige sukses, alles wat menslik moontlik is, gedoen om in die storm staande te bly. Ons almal het al in so ʼn skrikwekkende situasie, wat buite ons beheer is, beland.


Ander is in die diepe duisternis van sonde vasgevang. Hierdie mense het hulle verset teen die leiding en bevele van God en in boeie in ʼn stikdonker, wanhopige plek beland. Dit herinner aan daardie mense van wie ander maklik sê: “Daar is geen hoop meer vir hom of haar nie.” Party weer het as gevolg van hulle eie, rebelse, dwase toedoen in die ellende beland. Die digter skryf: “Alle kos het hulle laat walg en hulle het by die dood omgedraai.” Dit laat my dink aan ʼn persoon, wat dronk bestuur, ʼn ongeluk veroorsaak en nou voor die poorte van die dood in die hospitaal lê.


Daar is net een aksie wat in elkeen van die bogenoemde vier scenario’s hoop en uitkoms bring. Dit is hierdie aksie wat tot gevolg het dat Psalm 107 bekend staan as een van die mooiste Psalms van hoop in die Bybel. “In hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp” (verse 6, 13, 19 en 28) en God het dié in die woestyn op die regte pad gebring en na ʼn bewoonde stad gelei. Hy het ook die geboeides uit die diep duisternis laat loskom en die dwase rebelle met ʼn enkele woord gesond gemaak. Vir die seevaarders het Hy die storm stilgemaak en die golwe en angs laat bedaar.


Elkeen van die vier gedeeltes voeg by: “Hulle MOET die Here loof vir Sy troue liefde, vir Sy wonderdade wat Hy aan mense doen.”


“Moet” kan twee goed beteken: Dit kan dui op ʼn opdrag of dit kan wees dat die geredde persoon geen ander keuse het as om die Here in dankbaarheid te loof nie. My hoop vir 2024 is dat die tweede opsie telkemale in sulke situasies sal seëvier.   

 

bottom of page