Sê nou 2024 is dieselfde… sal jy aanhou glo?
top of page

Sê nou 2024 is dieselfde… sal jy aanhou glo?


“Voorspoedige Nuwejaar.” Die meeste gesprekke gedurende die afgelope week of twee is met hierdie einste woorde ingelei. Maar wat as hierdie jaar nie ’n voorspoedige nuwe jaar is nie? Hoe gemaak as die moeilikheid dalk net nog meer gaan word? Wat as onsekerheid en probleme nie gaan afskaal nie? Wat as jy in die nuwe jaar steeds aanhou bid, maar niks verander nie? Sal jy steeds glo as hierdie jaar onveranderd op dieselfde trant as verlede jaar voortgaan? Sal jy steeds op die Here vertrou as moeilikheid nie van jou radarskerm deur die loop van 2024 verdwyn nie? As jy hierop ja kan sê, dan het geloof reg grond geraak in jou lewe. Dan dien jy God ten spyte van jou eie situasie.


As God se genade vir jou onder alle omstandighede genoeg is, dan het jy agtergekom waaroor geloof regtig gaan. Dan het jy reg gegroei tot op hierdie punt in jou geloofslewe. Dan gaan 2024 se uitdagings jou definitief nie onkant betrap nie. Of van die spoor af gooi nie. Dan gaan jy op God se pad te midde van voorspoed en teenspoed volhard. Dan kan jy weet dat hierdie jaar’n goeie jaar gaan wees, volgens die Here se voorwaardes! Dan mag jy vir ander mense sulke soort voorspoed op hulle eie lewensreise toebid en toewens. Dan weet jy Christus is altyd by jou en jou mense, soos wat Hy beloof het kort voor Sy hemelvaart. Jy is nooit alleen nie. Christus is in 2024 jou Padwyser en Reisgenoot.

bottom of page