Pinksterdag!
top of page

Pinksterdag!


Pinkster is die Joodse oesfees. Min het die Christene daardie oggend in Jerusalem gedink die oes op daardie dag sou ‘n hemelse een wees. Want God het daardie oggend die sluise van sy krag en genade wawyd oor die kerk oopgetrek, soos wat Jesus beloof het. Dit was seën in die vorm van hemelse reën! Al Jesus se volgelinge daar in die stad was bymekaar toe die hemele skielik bokant hulle koppe oopgaan in die vorm van wind en vuur! Die Gees het uiteindelik gekom. Al die Ou Testamentiese profesieë oor die Gees se uitstorting oor alle vlees het nou nuwe betekenis gekry. Want op daardie einste oesfees oggend in Jerusalem het die Heilige Gees oor almal begin waai en brand!

Die geluid van ‘n stormwind het die Gees se koms eerste aangekondig. Die Gees en wind loop hand aan hand, soos wat ons vantevore reeds vir mekaar gesê het. Soos wind waai Hy waar en ook soos Hy wil. Mens kan die Gees nie inperk nie, netsoos wat jy wind nie kan vasvang of vashou nie. Wind het daardie oggend teen stormsterkte begin waai, nuwe lewegewende wind! Dit het al die spasies gevul waar die eerste Christene saam was. Dit het soos ‘n tornado alles en almal aangeraak. Gees-Wind is altyd lewensveranderend. Dit waai alle sonde, hooploosheid, dood en wanhoop in ‘n oogwink uit die pad. Dit waai nuwe lewe in.

Gebed

Dankie vir nuwe winde in ons wêreld. Laat u lewensgewende winde orals waai, Gees van Christus. Amen


bottom of page