Hoe om anderkant die “bubble wrap” vir Jesus te leef (... en goed te getuig)
top of page

Hoe om anderkant die “bubble wrap” vir Jesus te leef (... en goed te getuig)


Ek weet nie wat is die regte woord vir “bubble wrap” in Afrikaans nie. Maar jy weet waarvan ek praat. Ek bedoel daardie plastiese verpakkings rondom breekbare items wat met lug gevul is. In elk geval, dit lyk asof party mense in sulke omhulsels leef, ook in die kerk. Vir hulle is die kerk eintlik net ’n plek van ontvlugting uit “die regte wêreld.” Wanneer hulle egter uit sulke “veilige” omhulsels moet padgee, verkrummel hulle “geloof” dikwels in ’n oogwink. Sommige jongmense bevind hulle byvoorbeeld tydens hulle hoërskooldae in ‘n lewensvreemde jeugbediening, maar dan beland hulle op universiteit skielik in ’n klas van ’n professor wat die Bybel aan flarde skiet. Of party mense werk jare lank in ’n Christelike omgewing en verskuif dan na ’n werksomgewing waar mense totaal ander godsdienstige oortuigings het. Skielik weet hulle dan nie meer wat om te glo nie. En of hulleself nog glo nie.

Hoe gemaak om nie in ’n “bubble wrap-lewe” te verval wat jou op ongesonde maniere isoleer van die res van die lewe nie? Mag ek ’n paar roetes deel:

  1. Sorg dat jy ’n goed deurdagte geloof in God het. Dink gedurig na oor jou geloof vanuit die Bybel. Dan sal jy altyd rekenskap kan gee van die hoop wat in jouself leef wanneer mense jou hieromtrent uitvra. (O ja, hierdie is ’n Bybelse opdrag volgens 1 Petrus 3:13-16).

  2. Moenie toelaat dat andersdenkendes jou intimideer nie. Ek het agtergekom baie agnostici en kie het nog nooit indringend nagedink oor hoekom hulle nie glo nie. Dikwels gebruik hulle maar net ’n paar ateïste se idees wat hulle op Google of in boeke raakloop. Moenie voel jy is ooit in die aanklagbank in hulle teenwoordigheid nie. Of dat jy die Here moet probeer verdedig nie. Jy is slegs Sy getuie. Lê goeie getuienis af oor jou geloof. Moenie aanvallend of skerp wees nie (1 Petrus 2:21-25).

  3. Vra 'n paar goeie vrae vir mense wat van jou verskil. Laat die skeptici ook ’n slag op die verdediging wees. Skep vir hulle ’n paar morele dilemmas, soos dat hulle dalk hulle negatiewe ervarings met sekere mense in die kerk projekteer op God.

  4. Weet dat geloof in Christus vir duisende jare reeds elke moontlike toets van twyfel, ongeloof, vervolging en spot suksesvol deurstaan het. Biljoene mense deur die eeue het reeds bely dat Jesus die Here is. Massas gelowiges is al vermoor omdat hulle geweier het om Jesus te verloën, maar steeds groei die Christendom van krag tot krag. Dit onderstreep Jesus se woorde in Matteus 16 dat nie eens die poorte van die doderyk die belydenis dat Hy die Messias is ooit sal kan stilmaak nie.

  5. Die Heilige Gees staan jou altyd by wanneer jy getuienis moet lewer oor Jesus (Markus 13:11).

  6. Daar is goeie lewe anderkant die “bubble-wrap” want Christus is in elk geval lankal reeds daar.


bottom of page