Wat gemaak as wolf begin blaas?
top of page

Wat gemaak as wolf begin blaas?


Onthou jy die storie van wolf en die drie varkies? Wel, dan onthou jy sekerlik ook wolf se beroemde woorde: “Little pig, little pig, let me come in. No, no, by the hair on my chinny chin chin. Then I'll huff, and I'll puff, and I'll blow your house in.” Die eerste twee varkies weier om wolf in te laat, maar dan blaas hy hulle huise om. Die rede? Wel, dit is van strooi gebou. Maar die derde varkie se huis is van steen en wolf se asem is dié keer nie sterk genoeg nie.

Krisis op krisis blaas deesdae kliphard aan wie weet hoeveel mense se lewenshuise. Te midde van winde van werkloosheid, geweld, korrupsie en hooploosheid word party mense se lewens onderstebo geblaas. Ander se geluk, drome en veiligheid is ook daarmee heen. Nog ander verloor selfs hulle geloof. Hulle kan net nie meer in God glo as hulle alles verloor het nie. Die oplossing? Luister asseblief na ’n lewensbelangrike ware vertelling, dié van Jesus in Matteus 7:24-27 (DB):

“Ek het julle nou baie dinge oor God geleer. As julle my woorde ter harte neem en dit doen, tree julle reg op. Dan is julle lewens op ’n stewige fondament gebou. Wanneer die reëns en storms oor julle losbreek, sal julle lewenshuis nooit inmekaarstort nie. Want julle lewens is gebou op die Rots wat nooit kan padgee nie. Aan die ander kant: as julle my woorde hoor en dit nie doen nie, is julle regtig dom. Dan is julle lewens op ’n hoop sand gebou. Wanneer die reëns en die storms oor julle losbreek, sal julle lewens uiteindelik inmekaarstort. Dan is die doderyk julle voorland.”

Jesus weet dat die lewe soms teen stormsterkte gebeur. Lewenstorms is sterk genoeg om mense se lewenshuise om te waai. Maar daar’s hoop: Jesus sê elkeen wat hulle lewe op Homself en op sy woorde bou moet weet hulle lewenshuise staan op ewige Rots. Geen storm sal hulle ooit omwaai of vernietig nie. Hulle is geanker op die Rots wat nooit wankel nie. Jesus waarborg dit. Glo dit. Hou op om eienaar-bouer van jou lewe te probeer speel deur met goedkoop strooi te bou. Sorg dat Jesus jou lewe is. Dan sal geen storm jou ooit wegwaai uit sy hand nie. Of jou lewe uitmekaar waai nie.


bottom of page