Geestelike Spietkop
top of page

Geestelike Spietkop


Deesdae lyk dit of elke tweede Christen met ‘n Facebook-profiel voel dat hulle ‘n “geestelike spietkop” moet wees vir die Here. Jy weet, daai mense wat ‘n Bybelversie het vir elke liewe ding wat iemand verkeerd doen of sê.

En, as ek mag eerlik wees, is ek ook baie keer daai spietkop. Ek wil dit my plek maak om die wat nie soos ek dink, doen, of glo nie, op hulle plek te sit. So asof ek ‘n graad het in geestelike spietkop wees. Maar hiermee sê ek nie dat ons alles van ons broers en susters mag oorsien nie. Inteendeel, as ons hulle waarlik liefhet, sal ons hulle in die oë kyk, en met liefde aanspreek om reg te kies- en dit gebeur gewoonlik in mekaar se fisiese teenwoordigheid.

Nêrens is mense meer veilig om net eerlike foute te maak nie. Jy kan net te lank slaap, of in jou neus krap, of harde musiek luister, of vir mense van ander gelowe bid, dan is daar fout. Jy moet tereg gewys word. Jy moet nóú boete betaal.

Net soos ‘n spietkop op die pad ekstra moeite doen om hom te kamoefleer nét sodat hy jou kan vang vir 90 in ‘n 80 sone, kruip geestelike spietkops gewoonlik op Facebook rond- blykbaar met opdrag van God- om mense uit te vang vir wat hulle verkeerd sê- veral wat nie in God se woord staan, volgens hulle nie.

Vir ‘n geestelike spietkop is die Bybel slegs ‘n eksamen-vraestel. Iets wat jy hard en deeglik moet bestudeer sodat jy kan slaag, sodat jy tog net nie die verkeerde antwoorde het nie. Jy memoriseer tekste links en regs, en hou dit in die sak, vir die regte oomblik om te “strike”. Daar is slegs een antwoord per vraag, en jy kry dit reg of nie. En dis dan die goddelike plig van die geestelike spietkop om jou op jou plek te sit indien jy die eksamen gedruip het.

In Jesus se tyd was daar ook sulke geestelike spietkops, wat op elke hoek en draai gestaan en wag het tot Jesus net iets skeef aanhaal uit “God se Woord”, of net iets doen wat nie ooreenstem met die wetboek nie, dan is hulle daar. Hulle was konstant so kort op Sy hakke.

Eendag, in Matteus 9:9-13, vang die geestelike spietkops vir Jesus op die spot besig om die reëls te oortree. Hy eet saam met sondaars. Hy hou partytjie, en gesels, en kuier met die skuim van die aarde. Hoe durf hy! Maar later, was dit toe juis hulle spietkop-reëlboek wat Hom tot die dood veroordeel het. Dit was in die Naam van God wat hulle God-in-vlees teengestaan het. Dit was omdat hulle die handboek van voor tot agter uit hulle koppe ken, wat gemaak het dat hulle blind en onbewus was van die Handboek Homself wat in hulle midde was.

Elke keer wanneer ek my lyf spietkop hou, word ek herinner aan Jesus se woorde (Matt. 9:13): “Ontferming is vir my baie belangriker as offerandes”. Hoor hoe Die Boodskap-vertaling dit stel: “Dit help nie julle broei mekaar warm in die kerk en hou mooi eredienste nie. Nee, Ek wil eerder hê julle moet mense help wat julle hulp regtig nodig het”.

Hoeveel energie mors ons nie elke dag deur ons tyd uit te bring met offerandes, mooi eredienste, teregwysing van sondaars en die wat van die pad af is nie. Energie wat ons kan gebruik om barmhartigheid te toon, mense te help wat regtig ons hulp nodig het. God kan vir Homself opstaan. Hy het nie ‘n boelie nodig om Hom teen ander boelies te beskerm nie. En Hy’t verseker nie geestelike spietkops nodig om die paaie vir Hom skoon te hou nie. Wat Hy wel nodig het, is volgelinge wat omgee soos Hy; wat liefhet, soos Hy; wat hulle hande vuil maak, hulle deure oopmaak, en hulle sosiale media blaaie rein hou.

Ek is nog self ‘n myl ver van dit af. Ek stof nog maar gereeld my spietkop baadjie af, en stap trots met dit rond opsoek na die sondaars en tollenaars. Maar ek het vir my ‘n praktiese daaglikse herinnering ingestel om my te laat wegbly van daai kleredrag en sy houding. Ek dra nou al ‘n geruime tyd elke liewe dag gekleurde onpaar sokkies om my te herinner dat elke liewe mens wat ek ontmoet Jesus se barmhartigheid nodig het- net soos ek.


bottom of page