Die goeie idioot
top of page

Die goeie idioot


Dit was Martin Luther, wat bekend was vir die uitspraak dat gelowiges moet ophou verwag dat die wêreld hulle soos slim filosowe gaan hanteer, maar dat ons eerder moet bereid wees om as dwase hanteer te word. Toe ek onlangs begin het om die ou televisiereeks, Columbo, te begin kyk, kon ek nie help om aan Luther se woorde te dink nie. Columbo was in die 1970’s en 1980’s uiters gewild en het gehandel oor ‘n speurder in Los Angeles Polisie se moordafdeling. In elke episode is daar dan ‘n moord, wat gepleeg word, wat deur Columbo opgelos moes word.


Wat die reeks egter interessant en uniek gemaak het, was die karakter van Columbo self. Hy was ‘n uiters eksentrieke karakter, wat vreemde eienskappe getoon het tussen die ryk, gesofistikeerde mense, in wie se lewens hy dan betrokke geraak het om die moord op te los. Ek noem ‘n paar van hierdie eienskappe:


  • Hy kom slonserig voor met ‘n ou gekreukelde oorjas, wat hy altyd dra.

  • Hy ry ‘n ou geroeste kar, wat rook, en dink geensins dat hy ‘n nuwe een nodig het nie.

  • Hy lyk altyd verstrooid en deurmekaar oor die huidige moordsaak en mense se getuienisse rakende die omstandighede van die moord.

  • Sy medekarakters beleef hom altyd as ietwat naïef en liggelowig en uit pas met die realiteit.

  • Hy het egter duidelik goeie waardes, is altyd uiters vriendelik met almal, selfs met die mees onbeskofte karakters, selfs die moordenaar.

  • Hy het ‘n baie gesonde huwelik en praat altyd van mrs. Columbo se opinie oor sake, alhoewel die kyker haar nooit te siene kry nie.


Hierdie eienskappe maak dat Columbo as ‘n idioot voorkom en heel dikwels onderskat die moordenaar hom geheel en al, wat natuurlik tot sy ondergang tot gevolg het. Want Columbo is eintlik vlymskerp, mis geen onreëlmatigheid nie, sien elke stukkie detail raak, som mense uiters akkuraat op en vang uiteindelik altyd die moordenaar.


Hy is die goeie, slim idioot.


Ek wonder soms of Columbo nie iets sê van hoe Jesus-volgelinge in hierdie wêreld beleef behoort te word nie. Paulus sê dat die boodskap van die kruis dwaasheid in die wêreld se oë is. Wat vir die wêreld waardevol is, het nie vir ons en God groot waarde nie. Mense sal hulle oë dikwels vir ons rol, wanneer ons van Jesus of die waardes van Sy koninkryk praat. Dit maak nie altyd vir hulle sin nie. Ons is Jesus se “goeie idiote”. Ons is nie veronderstel om te probeer cool wees, of in te wees by die belangrike mense nie. Ons streef nie na die duurste, nuutste karre nie. Ons leef nie vir die waardes van hierdie wêreld nie. Ons is veronderstel om onverbonde aan die materiële, selfsugtige idees van ons samelewing te leef. Ons sien en bring hoop, waar ander mense nie hoop sien nie. Ons glo in ‘n Verlosser, wat ons nie kan sien nie. Ons is naïef genoeg om God op Sy Woord te neem, om Sy beloftes te glo.


Dit beteken nie dat ons onwys, dwaas, ondeurdag en oningelig moet wees nie. Columbo is beslis nie. Hy kom net so voor, omdat hy nie probeer om slim te klink, of cool te lyk nie. Nee, dis net dat ons nie moet verwag om altyd aanvaar te word nie, want ons geloofsoortuiging strook nie met die ander mense s’n nie.


Tog probeer ons goed, liefdevol, vreugdevol wees en ‘n verskil maak. Ons poog om vrede en versoening tussen vyande te bring. Wanneer mense in die moeilikheid beland, is ons heel dikwels die mense na wie toe hulle kom vir hulp.


Jesus is vir Sy boodskap gekruisig, terwyl Hy redding vir die einste soldate, wat Hom vasspyker, bring. Hy vergewe Sy vyande vanaf die kruis af.


Paulus is gestenig, geslaan en uiteindelik vermoor en tog was sy doel bloot om mense aan Jesus bekend te stel.


God se mense is Sy goeie idiote. Ons pas nie in nie.


Tog leef ons Sy vreugde uit en tog skyn ons met Sy lig.

bottom of page