top of page

Haggai: Vier preke verander ‘n volk se geskiedenis


29 Augustus was die groot D-dag vir die profeet Haggai. Dit was die dag waarop hy begin het om met die mense van Juda in God se Naam te praat. Haggai het maar ‘n kort profetiese loopbaan gehad waarvan ons weet. Anders as ‘n Jeremia of ‘n Esegiël, wat vir donkiejare as God se spreekbuise opgetree het, was Haggai waarskynlik net een seisoen lank profeet: van 29 Augustus tot 18 Desember in die jaar 520 voor Christus (1:1; 2:1-2). Hy het net vier preke nodig gehad het om die doelwitte te bereik waarvoor God hom gestuur het. Ongelukkig weet ons niks van Haggai se persoonlike omstandighede af nie; behalwe dat sy naam min of meer iets beteken soos: “Op ‘n feesdag gebore!”

‘n Onstuimige, maar opwindende, tyd

Haggai het in die tyd opgetree toe koning Darius I aan die hoof van die magtige Persiese Ryk gestaan het. ‘n Paar jaar tevore, toe Kores nog koning oor hierdie Ryk was, is die Joodse ballinge toegelaat om terug te keer na hulle geboorteland toe. Soos wat Esra ook vir ons in sy geskrif vertel, het die Judeërs toe onder leiding van Sesbassar begin om die nuwe fondamente van die tempel te lê. Kort hierna het die volk selfs weer offers aan die Here gebring op ‘n nuwe brandoffer altaar (Esra 3:2-8; 5:16).

Teen die jaar 520 voor Christus, toe Haggai sy profetiese opdrag ontvang het, was Serubbabel die nuwe hoof van die provinsie Judea (1:1). Die inwoners van Juda se planne om die tempel te herbou, het egter intussen in die warm Judese sand weggesyfer. Al waaroor hulle nou bekommerd was, was om hulle eie huise te herbou en mooi te maak (1:9). God se huis moes maar in puin lê. Maar toe kom daar ondersteuning uit ‘n baie belangrike oord. Koning Darius was ten gunste daarvan dat die mense van Jerusalem se godsdienstige gebruike in ere herstel moes word. Dit het die regte ondersteuning gebied vir Haggai se dinamiese preke, asook vir dié van sy tydgenoot Sagaria. Einste Sagaria, ‘n jonger profetiese kollega van Haggai, het tussen die jare 520 tot 518 voor Christus vir die mense wat na Judea toe teruggekeer het bemoedig dat die Here hulle glad nie in die steek gelaat het nie.

Herbou God se huis

Haggai het een groot droom gehad: God se tempel moes herbou word. Dit was die opdrag wat hy namens God aan die mense van Juda moes oordra. Daarom moes die hoëpriester Jesua, wat aan die hoof van die priesters gestaan het (1:1), saam met goewerneur Sealtiël hoor dat die volk nie op die regte godsdienstige koers is nie. Die mense van Judea het vergeet om hulle eie kalenders met God s’n te sinkroniseer. Die gevolg: hulle lande was sonder oeste en die wolke bo hulle koppe sonder water (1:9-11). En God se huis was in puin. Die oplossing? Wel, die tempel moes herbou word. So eenvoudig soos dit.

Al het Haggai maar ‘n kort profetiese loopbaan gehad, was dit ‘n uiters suksesvolle een. Skaars het hy sy eerste groot preek gelewer, of die volk en hulle leiers se oë en ore het oopgegaan. Drie weke na Haggai se eerste preek het almal aan die werk gespring om God se tempel te herbou (1:12-15).

Op 17 Oktober in die jaar 520 het Haggai se tweede preek gevolg (2:1). Dit was gedurende die tyd van die Loofhuttefees toe groot skares in Jerusalem was om te bid en offers aan God te bring. Nou kon die volk en hulle leiers by Haggai die goeie nuus hoor dat God Self sou sorg dat sy nuwe tempel eer geniet (2:4-9). Die bouers het nie nodig gehad om op eie stoom te probeer om ‘n beter tempel as Salomo s’n te bou nie. Hulle moes dit aan God oorlaat om sy huis met die nodige eer te vul.

Preek nommer drie is op 18 Desember in 520 gelewer (2:10-19). Nou moes die priesters en die volk hoor dat dit nie ‘n klomp uiterlike godsdienstige dade is wat mense se lewe in die regte verhouding met God bring nie, maar wel gehoorsaamheid! Dis al wat tel. Kort hierna, sommer op dieselfde dag nog, het Haggai sy afskeidspreek gelewer. In sy vierde en laaste preek wys hy dat God ‘n groter plan met die ganse wêreld het. God se plan is veel groter as om bloot maar net vir een volk om te gee. God is op hoogte met alles wat die nasies doen. Daarom sal Hy binnekort in die wêreldgeskiedenis ingryp tot voordeel van al sy dienaars. Dit is vandag nog waar. Tot vandag toe het die God van Haggai steeds die ganse wêreld binne sy genade-visier.


bottom of page