top of page
deur Ashe Steenbok

Klas is vol


Dit is my eerste jaar as tokkelok (teologiese student) en die Griekse klas is propvol. Die dosent sê ons moenie worry nie-binnekort sal daar meer sitplekke wees. As ek maar net geweet het dat dit eindelik vir ons almal ‘n waarskuwing is dat die vak nie met hom laat mors nie. My eerste klastoets op ‘n Maandagoggend kry ek 8/20 en dit is nog hoog as ek so rondom my kyk. Die week daarop is daar baie sitplekke soos die klas al leër raak en student opskop.

Dit gaan rof met die akademie en intussen moet ek nog by Spur werk vir klasgeld en by ‘n gawe prokureur admin doen. Twee werke en ek moet swot. Ek slaap nie eens meer nie-ek word so jaloers as ek hoor hoe die ander studente smiddae ‘n toebroodjie kry by hulle ouerhuis en dan rustig gaan swot. Dit terwyl ek moet regmaak vir Spur na klas en dan nog my admin doen vir my ander deeltydse werk. My moeder kon my net die nodige stuur om my verblyf te dek… en daarvoor is ek baie dankbaar want ek weet sy doen haarself te kort. Na my pa se sterfte het sy afgetree na ‘n tydjie en verhuis na haar broer in Prieska. Tussen haar huis en die dorp is daar ‘n staalbruggie. Daardie bruggie het my gedra want elke Vrydag het my moeder dorp toe geloop en vir my R100 inbetaal en ‘n bemoedigende brief gepos.

Ek sien maar deesdae hoe die studente betoog oor klasgelde en huisvesting. Eendag toe kommentaar ek ook op ‘n sosiale netwerk en vra of die studente wat so swaarkry ‘n deeltydse werkie het. Sjoe! Die kommentaar wat ek ontvang het was nie lekker nie… om die minste te sê, hulle was baie, baie kwaad vir my. Waar moet hulle nou die tyd kry om te werk as hulle moet swot! Ek dink baie van my generasie en die vorige generasies het almal deeltydse werkies gehad; al was dit net om handboeke te betaal of sakgeld te hê. Ja, dit was nie lekker om te gaan werk saans as ek weet my klasmaats swot nie, maar dit het my iets geleer van deursettingsvermoë en harde werk.

Ek sien deesdae by die skool ook; die grootse uitdaging wat Suid Afrika in die oog staar is nie die ekonomie of die gesondheidstelsel nie, maar ‘n generasie wat alles op ‘n skinkbord verwag. Die wêreld skuld hulle iets en so betree hulle hulle beroepslewe. Hulle is in vir ‘n ontnugtering!

As ek op kampus deesdae rondloop en probeer my Phd voltooi dan sien ek op kampus al die studente het motors en laptops en ‘smartphones’. In my tyd het min studente motors gehad en net derdejaars mag op die kampus parkeer-ons het plakkies gedra, maar student dra nou ‘K-Way’. Hulle mis iets van student wees wat ons generasie en ander generasies gehad het… die lekker swaarkry!


bottom of page