Skop eerder profetiese stof op as dat jy dit afskud!
top of page

Skop eerder profetiese stof op as dat jy dit afskud!


Jy kan ‘n paar dinge met stof doen. Jy kan dit opskop, of jy kan dit afskud. Die profete van die Here het uitgeblink in stof opskop. Jesaja, Jeremia, Esegiël en kie het dikwels ongewilde dinge in God se Naam gesê. Vandag nog wen sulke profetiese stemme nie aldag gewildheidskompetisies in die kerk of in die wêreld nie. Ek praat nie hier van daardie selfaangestelde profete wat eintlik toekomsvoorspellers in vermomming is en wat vir mense sê wat hulle graag wil hoor nie. Jeremia 23 waarsku juis teen sulke vals spreekbuise vir God. Eietydse profetiese stemme is broodnodig. Sulke profete sê nie altyd wat mense wil hoor nie, maar wat hulle moet hoor. Om te profeteer is om God se wil aktueel in die lig van die Bybel hier en nou bekend te maak. Egte profete is baanbrekers en padbouers. Hulle breek nie net af nie, maar bou ook op. Hulle is lewende brûe waaroor ander kan loop in God se rigting. Miskien is dit beter om sulke profetiese stof op te skop as om dit net gedurig af te skud. Laat mense dan eerder ongemaklik voel met God se nabyheid as dat hulle moet beleef Hy het opgegee op hulle. Opgee is sy allerlaaste opsie.


bottom of page