As jy saam met Jesus wil wees, klim terug in die boot
top of page

As jy saam met Jesus wil wees, klim terug in die boot


Onthou jy Petrus se waterlopie daar in Matteus 14? Net dalk is dit nie so ’n goeie ding om op water te probeer loop nie. In elk geval nie soos wat dit afgeskop het daar aan die dissipels se kant van die draad (of is dit die boot?) nie. Toe Jesus op die water aangeloop gekom het na hulle toe, het hulle Hom verwar met ’n spook (’n fantasma in Grieks). In daardie dae het baie mense geglo bonatuurlike magte bly soms in die water. Nou het een so ’n figuur uit die onderwêreld ontsnap, het die dissipels gedink. Daarom dat naakte vrees hulle oorval het. Wat ’n fout! Die lewende Seun van God loop op die water en sy eie dissipels meen ‘n wese uit die doderyk kom spook by hulle in die storm. Om alles te kroon versoek Petrus vir Jesus met die vraag: “Here, as dit regtig U is (of soos wat die Grieks letterlik lui: “Here, as U inderdaad U is!”), beveel my dan dat ek op die water na U toe met loop.” Sy woorde klink amper dieselfde as die duiwel se versoekings vroeër in Matteus 4. Hy het ook sy versoekings ingelei met die woorde: “As jy die Seun van God is…”

Toe nooi Jesus dadelik vir Petrus vir ’n waterloop. Spoedig het sy kleingeloof egter gemaak dat hy gate in die water getrap het. “Red my, Here,” was Petrus se noodkreet hier in die storm. Toe doen Jesus presies dit. Toe red Hy vir Petrus uit die water en kry hom terug aanboord. Nadat die storm bedaar het, het almal aanboord voor Jesus gebuig. “U is verseker die Seun van God!” het hulle bely.

Lyk vir my, die beste plek om te wees is aanboord, mits Jesus ook aanboord is. Daar bedaar storms. Daar kom bang harte tot rus. Hy tel drenkeling dissipels terug in die boot, waar hulle hoort; daar waar die aanbiddingsfees gebeur. Hulle aanvanklike vrees vir spoke het verdwyn. Hulle weet nou hulle is in die teenwoordigheid van die Seun van God.

As jy saam met Jesus wil wees, klim terug saam met Hom in die boot!


bottom of page