Is selfsorg nie selfsugtig nie?
top of page

Is selfsorg nie selfsugtig nie?


Daar kom tye van swaarkry/vervolging in elke Christen se lewe, tye waar ek soos ‘n drenkeling aan God vashou. Daar kom ook tye wanneer ek in hierdie gejaagde moderne wêreld só op die trapmeule van besig-wees hardloop, dat ek vergeet wie ek is.

Vir baie jare het ek geglo dat dit selfsugtig is om aandag aan my eie fisiese en emosionele self te gee. Dit omdat ek geglo het dat my geestelike welsyn op die een of ander manier voldoende moes wees. Maar, soos wat ek deur die jare dieper in die Bybel gedelf het, ‘n bietjie beter begin verstaan het wat God se plan met my lewe is, het ek ‘n paar nuwe insigte gekry.

Waar Jesus in Johannes 12 leer dat ek my eie lewe moet “haat” in vergelyking met my liefde vir Hom, beteken dit maar net dat ek ontslae sal raak van die tirannie van my eie selfgesentreerdheid. Dat ek die strewe na voordele, plesier, sekuriteit sal aflê sodat ek vry sal wees om God voluit te dien. Dat ek soos Hy myself van tyd tot tyd sal afsonder om net weer myself te herinner aan wie ek is, hoe my Vader my sien: Kosbaar vir God wat sy Seun gegee het sodat ek mag lewe, en dit in oorvloed.

Hierdie afsondering gebeur natuurlik primêr in my stiltetyd, maar ek ervaar ook iets daarvan wanneer ek ‘n vyf na tien minute draai deur die tuin stap, in my studio gaan wegkruip, of ‘n uurtjie of dalk ‘n dag in ‘n spa gaan deurbring. Wanneer ek net op my eie begeertes en gerief fokus, is dit gevaarlik na aan selfsug, maar wanneer ek so ‘n geleentheid gebruik om net weer die waarde van my mens-wees vanuit God se perspektief te sien, is dit ware selfsorg.

Gesonde selfsorg gee aan oefening, rus en gesonde eetgewoontes nuwe betekenis: dit gaan daaroor om hierdie tempel van die Heilige Gees (my liggaam) na die beste van my vermoë in stand te hou en te versorg. Dit is my verantwoordelikheid om hierdie kosbare gawe van “self” waarvan ek rentmeester is, te aanvaar, vergewe, respekteer, liefhê en versorg – dit is waarmee ek ander en vir God dien.

“Self-care is never a selfish act - it is simply good stewardship of the only gift I have, the gift I was put on earth to offer others. - Parker Palmer


bottom of page