Ydelheid
top of page

Ydelheid


Lees Romeine 8:12

 

Het jy geweet: sowat 12 miljoen kosmetiese operasies word jaarliks in die VSA teen ‘n koste van 20 biljoen dollar uitgevoer? Die nuutste gier is spierinplantings vir mans. Teen $15,000 kan mans ‘n paar kitsspiere vir hulself laat inplant sonder om ure in gimnasiums te sweet. Ook in Suid Afrika neem kosmetiese operasies hand oor hand toe. Wat ‘n vreemde wêreld! Miskien doen party mense dit, omdat hulle dit steeds nie regkry om net hulself te wees en om in vrede met hulleself te leef nie. Te veel mense wil anders lyk, leef en optree, omdat hulle nie oor die weg met hulleself kom nie. Maar op die ou end lê die oplossing nie in dokters se snymesse, of in al daardie “makeovers” nie. Nee, dit lê in onsself. As ons nie vrede met God én met onsself in ons harte het nie, dan sal geen operasie, vakansie, geld of nuwigheid ooit blywende vrede bied nie. Meer dinge op ons naam waarborg nie vanself meer geluk nie. Inteendeel.

 

Vrede begin altyd diep binne-in ons. Dit begin met hemelse rus wat God in ons harte uitstort. Rustige harte is die gewaarborgde hemelse geskenk, wanneer ons Christus se ligte las op ons eie skouers tel. Nee, ons het nie eintlik ‘n keuse of ons dit wil doen nie. Die Gees dryf ons Christuswaarts. Ons is onder verpligting van die lewende God om anders te leef.

 

Gebed:

Stroop my van alle ydelheid. Maak my tevrede met wie ek is, Christus. Amen.

bottom of page