Hy bly vir altyd
top of page

Hy bly vir altyd


Lees Romeine 8:11

 

Die Gees het gekom om te bly. Hy is in ons. Hy sal ons nooit los nie. Nie eens die dood kan Sy inwoning in ons lewe keer nie. Nee, die Gees is jaloers op ons. Hy begeer van harte dat ons God sal liefhê en dien. Daarom weier Hy om ons ooit weer prys te gee. Die koopsom op ons koppe was in elk geval veels te hoog. Dit het Jesus se kosbare bloed gekos. Hy moes Sy lewe inruil sodat ons vry kon wegstap. Dis geen wonder dat die Gees nooit sal padgee as Hy Sy intrek by ons geneem het nie.

 

Paulus skryf hier in vers 11 dat die Gees van God, wat Jesus uit die dood laat opstaan het, ook dieselfde met ons sal laat gebeur. God sal deur Sy Gees met ons doen wat Hy vir Jesus gedoen het. Hy sal eendag die dood se bande van ons afgooi. Maar Hy doen dit ook hier en nou. Nou al kan ons vir Jesus leef. Nou al is ons nie meer slawe van sonde nie, maar knegte van die Here. Ons kan Hom nou reeds deur ons leefstyl, ons woorde, ons gedagtes verheerlik. Dis ook nie moeilik om dit te doen nie, want die Heilige Gees lei ons immers hierin. Hy leer ons om nuut te dink en nuut te leef. Ons moet maar net gehoorsaam aan Sy leiding bly.

 

Gebed:

Lei ons in U waarheid, Here. Laat ons groei in ons verheerliking van U Naam. Amen.

 

bottom of page