Gucci of geloof?
top of page

Gucci of geloof?


Lees Romeine 8:10b

 

James Twitchwell vertel in ‘n boek oor die wêreld se nimmereindigende liefdesverhouding met luukshede dat die besit van luukse artikels, skoonheid in ons lewens inbring. Boonop snoer dit glo mense van verskillende sosiale groeperinge saam. Watter onsin! Hoe jammer dat ons ons onversadigbare honger na besittings op sulke maniere moet regverdig! Tog skryf Twitchwell een ding, wat my geruk het: “If Americans can’t share God, why not Gucci?” Dis ‘n tragedie dat luukshede in baie se oë as meer samebindend as godsdiens beskou word. Dit hoort nie so nie. Ons moes advertensieborde vir God se liefde gewees het. Ons moes magneties gewees het sodat ons mense na Hom toe kan aantrek. Ons wat Jesus se volgelinge is, moes met diensknegharte geleef het en ander op die hande gedra het. Maar nou ja, dis nog nie te laat om egte skoonheid te demonstreer, wat blywende waarde het nie. Wees jy vandag minstens die lewensgrootte verskil!

 

Jy is geroep om ‘n egte lewensverspreider te wees. Jy is geroep om te wys dat ‘n lewe, wat vry van verslawing aan besittings en luukshede is, inderdaad moontlik is. Jy moet die lewende advertensie van die Gees se magtige werke, wat jou heeltemal vry maak om die Here met liefde en oorgawe te dien, wees. Anders is Twitchwell se woorde dalk waar in jou omgewing. Mag dit nooit gebeur nie!

 

Gebed:

Laat my hunkering na luukshede uit my lewe verdwyn, Gees van God. Help my hiermee. Amen.

bottom of page