top of page
  • Siegfried Louw

Hoeveel onse in jou pond?


“Hoeveel onse is daar in jou pond?”


Dit is die vraag wat my ma gewoonlik vir my gevra het wanneer ek besluit het ons behoort iets te doen. My kinders verstaan nog minder van onse en ponde as ek, so hulle het die vraag vereenvoudig: “Wie almal?”


Die woorde “ons” en “hulle” is belangrike woorde in enige taal. Dit sal betreklik moeilik wees om sport te beoefen as ʼn mens nie kan onderskei tussen verskeie spanne nie. Om deel te wees van ʼn spesifieke “ons”, is deel van jou identiteit. “Ons” bly in Kaapstad, maar “hulle”, die res van die familie, bly in Vanderbijlpark.


Onlangs is ʼn groot gros Afrikaanssprekendes daaraan herinner dat “ons” saam dieselfde taal praat. “Ons” is anders as die Engelssprekendes op die Noord-Amerikaanse kontinent. Ons het ʼn gedeelde identiteit.


Ongelukkig blyk dit dat die wêreld tans slaggereed is om die verskillende soorte “ons” binne ʼn japtrap teenoor mekaar as vyande op te stel. Met bykans enige politieke, godsdienstige of sosiale kwessie, is mense slaggereed om twee vyandige pole te identifiseer.


Die ontwikkelingsielkunde help ons om te verstaan dat identiteit, en om te begryp by watter “ons” jy inpas, ʼn baie belangrike proses is wat deel is van grootword. Dit is immers vir gelowiges ook belangrik om te kan sê: “Ons is volgelinge van Jesus en daarom leef ons met ander waardes as mense van die wêreld.” Ook in hierdie sin is daar ʼn onderskeid te bespeur.


Jesus gaan wel op ʼn interessante manier om met hierdie idees. Hy daag ons uit. Vandag nog.


Sy dissipels het uit verskillende groepe gekom. Dit was nie groepe wat noodwendig baie van mekaar gehou het nie. Sou dit nie vir Jesus makliker gewees het om ʼn spannetjie enersdenkendes te kies nie? Maar hulle moes weldra leer: “Ons is deel van ʼn heel nuwe ‘ons’.”


Met die uitstorting van die Heilige Gees het klomp verskillende groepe meteens die goeie nuus oor Jesus in hulle eie taal gehoor. Daarna moes leiers soos Paulus baie briewe skryf en gesprekke voer om gelowiges te help om ʼn belangrike ding te snap. Jode en Grieke en slawe en eienaars en ryk en arm – ewe skielik het almal se identiteit verander. Hulle was nou in die eerste plek Jesus se volgelinge.


Hollywood verstaan maar te goed dat groot krisisse mense help om meer mense by hulle “ons” in te sluit as voorheen. Dink maar byvoorbeeld aan die ou bekende Independence Day fliek. Toe die wrede buiteruimtelike wesens die mense op planeet aarde bedreig, is die Chinese, Russe, Oekraïeners en Amerikaners uiteindelik saam een mensdom wat baklei teen die indringers van buite.


Jesus se omarmende en selfopofferende liefde daag ons egter vandag nog steeds uit. Sy liefde sluit altyd meer in as wat ons self bereid is om te erken. Dit is onafwendbaar dat daar altyd “ons” en “hulle” sal wees. Maar ons kan nie anders nie as om dit gedurig te bevraagteken. Jesus se perspektief doen dit aan ons en aan hulle. Dit is nie staties nie. Dit skuif. Dit word oper. Soos wat ons ouer en wyser word, verstaan ons die “ons” beter en beter. Uiteindelik kan dit ons uitdaag om selfs die hele groter aarde met al God se skepsels as deel van die “ons” te sien. Die natuur en haar kinders is nie objekte wat ons maar kan opgebruik nie. “Ons” is ook deel van “hulle”. Maar dis nog ʼn bietjie te groot vir myself om te begryp.


Vir noú droom ek net daaroor dat Jesus se geboorte my en jou hart verander om mooier en meer genuanseerd te praat oor mense wat anders is as jy self. Hoeveel onse is daar in Jesus se pond?

bottom of page