top of page

“Wie is ek?” is nie die belangrikste vraag nie


Dis asof almal daarop uit is om hierdie vraag te beantwoord. Wie is ek? Wat is my gawes? Wat moet ek doen? Waarom is ek hier? Dis alles vrae, wat met mekaar verband hou. Elkeen van ons wil tog weet wat ons doel hier op Aarde is, waarom ons bestaan en watter soort lewe vir ons sin en betekenis sal bring. Jongmense gaan selfs oorsee vir ‘n gapjaar om “hulleself te vind.”.


Daar is egter ‘n toenemende waarneming dat hierdie vraag nie eintlik “werk” nie. Dit help nie om ons beter in die samelewing te laat funksioneer nie. Trouens dit kan maak dat ons slegs meer selfobsessief optree en individualisties dink. Natuurlik kan ons nie anders as om die wêreld waar te neem en daaroor na te dink vanuit ons as individue se oogpunt nie. Dit kan ons nie verhelp nie. Maar die vraag is te lig vir die betekenisvolle kosmos, waarin ons onsself bevind. Die vraag “Wie is ek?” beantwoord nie die vraag oor ons identiteit die beste nie. Die filosoof, JKA Smith, wys ons daarop dat die kerkvader Augustinus hierdie vraag heel anders sou vra.


Augustinus sou nie vra: “Wie is ek?” nie.


Hy sou eerder vra: “Wie s’n is ek?”


Vir ‘n Jesus-volgeling is hierdie vraag ‘n baie goeie plek om by te begin. Dit stuur ons in ‘n baie beter rigting. Dit begin nie by jou nie, maar by God. Ek is nie die bepalende faktor nie, Hý is. Dit sê egter geweldig baie oor my identiteit.

  • Dit sê dat ons identiteit geborge is in die hand van God. Hý bepaal wie ons is. Ander medeskepsels se opinies is nie veronderstel om te tel nie. Ek bestaan nie op my eie nie. Ek bestaan slegs in Hom en as gevolg van Hom.

  • Dit sê dat ek in Jesus geliefd is. Ek behoort aan Hom en Hy is my primêre Liefhebber, die Een wat Sy lewe kom neerlê het sodat ek kan glo dat ek geliefd is. Ek is Syne. Die primêre realiteit waarbinne ek leef, is ‘n liefdesverhouding.

  • Dit sê dat my lewensdoel in Hom gesetel is. Hy het my in hierdie wêreld in ge-wíl. Ek is hier in hierdie tyd in die geskiedenis, omdat ek hier móét wees. My lewe tel en maak saak. My besluite hier en nou het ewigheidsbetekenis.

  • Dit sê ook dat my lewe nie aan myself behoort nie, maar aan Hom. Ék dien Hóm, nie andersom nie. Hy is nie daar om my gemaklik te maak en toe te gee aan my enige wens en begeerte nie. Hy is die Here, ek die dienaar. Hy dra die kroon en ek die voorskoot.

  • Tog volg ek Hom in my dienswerk. Hy het die voorskoot voor my gedra. Wie is ek om dit nie te wil dra nie?

  • Dit sê ook dat ek deel is van God se familie. Ek is Sy erfgenaam saam met al die ander gelowiges regoor die wêreld.

  • Dit sê ook dat ek deel is van ‘n “ons”. Ek is nie mens op my eie nie. Wanneer Jesus ons lewens binnekom, bring Hy Sy hele vreemde familie saam. Ek is deel van ‘n gemeenskap van medemense wat Hom liefhet en deur Hom liefgehê word.

Ons is Syne. Dis al wat ons oor onsself hoef te weet.


En dit is genoeg.

Comments


bottom of page