top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

God is groter as ons foute


Ek moet tot my eie skande bely dat sogenaamde “Christelike flieks” my gewoonlik met hulle oppervlakkigheid, swak storielyn en onoortuigende toneelspel irriteer. My apologie aan die aanhangers van Facing the giants, Flywheel, War Room en Courageous! Ek moet egter ook bely dat ek hoop ontwikkel het, want dit lyk darem gelukkig asof hierdie soort prente mettertyd beter. Een fliek wat nie te vrot is nie, is The Jesus Revolution. Kelsey Grammar (van Frasier-faam) speel die rol van Chuck Smith, ‘n geestelike leier wat probeer om met sy eie opregtheid ‘n verskil in die wêreld te maak. Smith het mense van die strate af in sy gemeente begin inneem, vir hulle kos gegee en hulle geestelik begin versorg. In sy pogings is Hy egter net so gebroke soos ons en maak hy geweldig dwarsdeur sy loopbaan baie foute. Hy het later, ten spyte van dit wat die Here in en deur sy lewe doen, so bewus begin word wat al sy mislukkings dat hy letterlik wou moed verloor met die werk, wat hy doen. Hy sê: “I failed and I’ve made so many mistakes!”


Gelukkig het hy ‘n wyse vrou, wat hom wys op al die geestelike vrug in sy lewe. Wat sy woorde van wanhoop betref, sê sy eenvoudig:


“Do you really think you’re so important to stop that (die mooi dinge wat God doen)? Don’t ever get so arrogant to think that God can’t work through your failures.”


God verwag gehoorsaamheid en aksie van ons, nie perfektheid nie. Baie Christene is egter so bang dat hulle foute maak, dat hulle liewer niks doen nie. Soveel mense het al vir my gesê dat hulle eers ‘n kursus wil doen, voordat hulle oor Jesus begin getuig, want netnou maak hulle ‘n fout! Nou neem hulle geen risiko’s nie, oorbeplan alles en beweeg nie vooruit voordat hulle nie inligting het, of voordat die hele plan vooruit uiteengesit is nie.


Ek het vir jou nuus: jy gaan in elk geval foute maak, met of sonder ‘n kursus! As ek moet terugdink aan al die foute, wat ek al gemaak het, terwyl ek mense na Jesus toe probeer help het, die simpel goed wat ek vir mense gesê het, dan wil ek onder ‘n klip van skaamte gaan wegkruip! Trouens, daar is mense voor wie ek sal moet kniel, wanneer ek hulle weer raakloop en nederig om verskoning sal moet vra vir my onbeholpe en soms arrogante optrede teenoor hulle. Maar dan gebeur die onverwagte: Ek loop sulke mense raak en dan is dit hulle wat vir my dankie sê. Nog voordat ek kan om verskoning vra, sê hulle dankie. Hulle sê dankie, want hulle lewens is aangeraak en vir altyd verander! Die Here het gewerk ten spyte van my.


Dit beteken nie dat ons nie kan skade doen deur ons onsinnige optredes nie. Dit beteken ook nie dat ons nie moet let op ons woorde en dade nie. Ons moet vir seker. Paulus sê byvoorbeeld in Kolossense 4:5 dat ons met wysheid moet omgaan met diegene, wat nog buite die gemeente is. Maar wysheid val nie uit die lug nie. Dit ontwikkel mettertyd en deur middel van oefen, oefen en nogmaals oefen. Oefening beteken om die vryheid te hê om foute te maak.


Maar die beste is: Sy bloedbevlekte kruisgenade bedek ons sondes en Sy krag is groter as die skade, wat ons tekortkominge ooit kan aanrig. Ons foute kan nie God se planne sink nie. Moet dus nie wag voordat jy begin gehoorsaam word nie.


Begin sommer nou.

Comments


bottom of page