top of page

‘n Vet weermag is ‘n oneffektiewe weermag!


Ek hoor ‘n paar weke gelede ‘n baie eenvoudige, maar kragtige stukkie wysheid terwyl ek ‘n fliek kyk. Alhoewel ek die fliek nie kan onthou nie, kan ek die persoonlike impak van die woorde van een van die vele dialoë baie goed onthou. Die een karakter het vir ‘n ander die vraag gevra: “Hoe kan jy ‘n effektiewe weermag oorwin sonder om ‘n enkele skoot te skiet?”


Die ander persoon het nie ‘n antwoord gehad nie.


Die antwoord? Jy voer hulle vet.         


‘n Vet weermag is ‘n onfikse weermag. Met vandag se drone-oorlogvoering, waar mense die vyand bombardeer vanuit jou binnekamer soos in ‘n videospeletjie, is dalk anders. Maar dit was nie altyd so nie. Onfikse soldate kon niks van waarde verrig nie. Hulle kan nie ‘n ander vyand ver agtervolg nie. Hulle kan nie ongemaklike elemente in die natuur verduur nie. Hulle kan nie ver te voet reis nie. In kort is hulle eenvoudig oneffektief en kan nie veld wen teen die vyand nie.


As ek kyk na ons as Westerse Christene en kerkmense, dan wonder ek heel dikwels waarom ons so oneffektief voorkom, so min impak het en ons geloof so maklik skade ly. Maak geen fout nie: Daar is natuurlik baie Jesus-volgelinge, wat my geweldig inspireer en ‘n wonderlike voorbeeld is om na te volg. Navorsing aangaande die kerk vandag dui egter daarop dat ons nie altyd so goed vaar soos wat nodig is nie. Hoe is dit byvoorbeeld moontlik dat armoede en rassisme sulke groot probleme in ‘n land soos Suid-Afrika is, waar die meeste mense hulleself Christene noem? Iets is nie pluis nie.


Ek wonder of die meeste van ons nie geestelik oorgewig en vet geword het nie. Ek weet ek het. In ‘n gemaklike wêreld vergeet gelowiges soms die dringendheid en noodsaaklikheid van geestelike fiksheid en oefening. Dan neem goedgelowige Jesus-volgelinge baie maklik veral twee soorte besluite, wat hulle vet maak.


Die eerste (meestal onbewustelike) besluit is om te ooreet. Christene ooreet meestal hulleself aan geestelike inligting. Ons het geestelike informasiefrate geword. Let wel, ek praat nie van grondige, geleefde Bybelkennis nie, maar van tweedehandse, reeds verteerde informasie, wat ons meestal opspoor in kort, sappige dagstukkies, 1 minuut-videos, of sosiale media. Ons kyk gedurig kort video’tjies, lees bondige, sentimentele one-liners, wat ons gedurig vir mekaar aanstuur. Ons kyk ook na preke op Youtube, selfs goeie preke! Maar dit bly by kyk en kyk en kyk. Ons eet en eet en eet net nog meer inligting op. Geestelike groei het ‘n informasiejagtog geword, ‘n saak van sit en scroll en kyk. Met ‘n bietjie goeie, gepaste inligting op die regte tyd is daar niks verkeerd nie. Dit raak egter toksies, wanneer hierdie soort inligting ons belangrikste geestelike kos word. Dit bring ons by die tweede groep besluite.


Die tweede soort besluite hou verband met die eerste en dit is nonaktiwiteit. Die infojagtog is sleg vir ons, omdat dit bly by informasie en geen aksie nie. Kos, selfs goeie kos sonder aktiwiteit, maak ons vet. Ons mag nooit vergeet dat Jesus se uitnodiging aan ons altyd gepaard gaan met Sy woorde Volg My nie. Om te volg impliseer beweging en aksie en aktiwiteit. Vir die eerste Jesus-volgelinge het geloof beteken om fisies te stap. Agter Jesus aan. Die dissipels het agter Jesus deur woestyne, dorpe, vrugteboorde aangestap. Hulle het gestap na plekke, waar hulle nie wou heen gaan nie. Hulle moes Hom volg deur storms op die oop see, deur diep dale en oor berge, maar stap moes hulle stap. Kenners reken dat ook Paulus binne ‘n tydperk van vyftien jaar tussen 16 000 en 18 000 kilometer te voet gestap het! Nie vandag se Christene nie. Ek wonder of vandag se gelowiges een dag met Jesus sou kon byhou! Dis asof baie gelowiges vandag dink dat om Jesus te volg, is om te sit. Sit en boodskappe stuur op sosiale media. Sit en kritiseer. Sit en kommentaar lewer. Sit en luister. Die dissipels in die Bybel het baie selde na Jesus gesit en luister. Hulle’t meestal gestap en luister. Geloof en aksie was nog altyd bondgenote. Maar vandag het almal vreeslik slim geraak. Sommige mense weet van alles, maar doen niks nie. Baie “diep” gelowige mense, wat ek vandag ken, het nog nooit met ‘n nie-gelowige ‘n gesprek oor Christus gehad nie. Baie gelowige mense het nooit hulle voet gesit in ‘n informele nedersetting om skouers te skuur met mense van ander sosio-ekonomiese klasse nie. Hulle was nog nooit by hulle huishulpe se huise nie. Sommige gelowige mense versit nooit ‘n voet vir ‘n medemens, tensy dit vir hulle ook voordeel inhou nie. Baie mense weet nie meer hoe om vrede te bring in situasies van konflik nie, en raak só nutteloos vir die Here.


Die Here se vet weermag!


Gelukkig is daar ook Jesus-volgelinge nie wie ek kan opkyk. Vir hulle is geloof nie ‘n sitbesigheid nie, maar ‘n volgbesigheid, ‘n doenbesigheid. Hulle lees die Bybel aktief en kom bespreek wat hulle lees; hulle oordink Jesus elke dag en sit die inhoud van die evangelie oor in aksie. Lidmate van ons gemeente het byvoorbeeld die afgelope paar jaar verhoudings gebou met hulle Hindu-bure en hulle onlangs kerk toe genooi. Dié Hindu-mense kon nie uitgepraat raak oor die liefde, wat hulle beleef by hierdie lidmate van ons nie. Dis vir my so ‘n aansporing!


‘n Weermag, wat fiks bly vir die Here, verkry nie net informasie nie. Hulle neem die gepaste risiko’s, betree nuwe terrein saam met Jesus en begewe hulle op avonture waarop hulle nog nie voorheen was nie.


Hulle doen dit egter, want hulle weet dat dit Jesus is wat hulle nooi en Hy stap saam.

Commentaires


bottom of page