Wees beroemd op die regte manier … vir altyd
top of page

Wees beroemd op die regte manier … vir altyd


Ek onthou die slagspreuk van ’n plaaslike koeldrank in Nieu-Seeland, wat ek jare gelede daar raakgelees het. Hulle leuse was: “World Famous in New Zealand.” Fantasties! Doen dieselfde:

  • Dit is beter dat jy wêreldberoemd in jou eie huis is weens jou liefde vir jou familie as dat jy die res van die wêreld aan jou voete het.

  • Dit is beter dat jy wêreldberoemd tussen jou vriende is weens jou lojaliteit en jou integriteit as dat jou naam op almal in die dorp se lippe is.

  • Dit is beter dat jy wêreldberoemd by een persoon is, wat swaarkry en wat jy stilweg dien, as dat almal op sosiale media oor al jou suksesse gons.

  • Dit is beter dat een Persoon jou naam ken, as dat die ganse wêreld oor al jou doen en late gaande is. As Jesus van jou weet, is jy bekend genoeg. Jesus vra juis in Markus 8:36-38 vir jou wat dit help dat jy wen die hele wêreld wen, maar jy verloor jou siel? Keer betyds dat dit gebeur. Sorg dat Jesus jou goed ken. Sorg dat Hy jou op jou naam ken. Sorg ook dat ander kennis neem van jou liefde vir Hom, asook weens jou omgee en diensbaarheid. Dan is jy beroemd genoeg, nou en vir altyd!

bottom of page