Geloof en bekommernis is nie vriende nie
top of page

Geloof en bekommernis is nie vriende nie


Lees Psalm 37:3


Bekommernis is ‘n geloofdief. Dit blus die kragtige werking van die Heilige Gees al te gou uit. Psalm 37 bied ‘n paar belangrike beginsels om uit bekommernis se kloue te ontsnap: “Moenie jou energie mors om heeltyd oor slegte mense te praat nie.” (vers 1) Los die skelms vir die Here. Hy het hulle naam en adres. Hy sal met hulle afreken. Nog ene: “Glo in die Here.” (vers 3) Kies om jou aandag net op God te fokus. Kyk weg van negatiewe dinge - kyk na God. Kies elke dag van voor af om aan Hom vas te hou. Vra Sy Gees om jou aandag af te lei van twyfeldinge en jou hart in te stel op geloofsdinge.


“Doen goeie dinge vir ander mense.” (vers 3) Raak betrokke by ander. Jy is geroep om ‘n impak in die wêreld te maak. Wees ‘n lewende inspirasie vir ander. Sorg dat jou naam en adres op die lippe van een persoon is, wat regtig swaarkry. Wees die hande en voete van ons Heer vir mense in nood. Nog een: “Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê.” (vers 4) Kies vír vreugde, die Here se soort. Wees bly dat die Here jou ken en liefhet. Nee, jy is nie maar net ‘n nommer hier op aarde nie. Jy het Koninklike bloed in jou are, Christus S’n. Jy is verseël met die Gees as stempel van die Allerhoogste God.


Gebed:

Vat alle kommer nou dadelik uit my binneste, liewe Here. Amen.


bottom of page