Weer eens, die Gees dui op Christus se teenwoordigheid
top of page

Weer eens, die Gees dui op Christus se teenwoordigheid


Lees Romeine 8:9b

 

Sonder die Gees kan jy nie deel van Christus wees nie - die omgekeerde geld ook. Dis Paulus se boodskap in Romeine 8:9. Ons het vroeër ook by hierdie teks stilgestaan, maar dis so kosbaar dat ons nog eens vir mekaar moet sê die Gees is van die eerste dag, wat ons in Jesus glo, in ons aanwesig. Daar bestaan nie eens die geringste moontlikheid dat die Gees eers later Sy intrek neem, of dat daar eers iets spesiaal met ons moet gebeur voordat Hy ons lewens besit nie. Dan mis ons wat die die Bybel hieroor sê. Want die Gees is mos die Gees van Christus. Hy bring Christus in ons lewe en Hy verteenwoordig Jesus by ons.

 

Om die Gees en Christus se werk van mekaar te skei, is ‘n fout. Dit kan nie, want die Gees se werksterrein en Jesus s’n is identies. Hulle werk hand aan hand. Jesus koop sondaars en gee hulle dadelik oor in die hande van die Heilige Gees, wat hulle daar op die plek in kinders van God verander. Daarom is ons van dag een af Gees-deurdrenk. Die Gees word immers nie net aan indiwidue binne die kerk gegee sodat sekere Christene daarop kan aanspraak maak dat hulle meer van Hom het as ander nie. Nee, die Gees is God se geskenk aan Sy ganse kerk, ook aan jou en my.

 

Gebed:

Dankie, Heilige Gees, dat U in my lewe is en dat ek met U gedoop is. Amen.

bottom of page